Hierdie is my derde Jeep. Die eerste was ’n 2003 Grand Cherokee 4.7 HO, maar ek het hom verkoop oor sy hoë petrolverbruik.

Daarna het ek ’n paar ander voertuie besit, waaronder ’n Mitsubishi Triton, Nissan X-Trail en ’n Kia Sportage, maar die Grand Cherokee was net iets anders.

Toe koop ek weer ’n Jeep, dié slag ’n 4.0 Grand Cherokee, ook in die WJ-reeks. Dié het ongelukkig ’n bietjie gesukkel om my Sprite Swing te sleep.

Ek verkoop toe die 4 liter-petrol en begin soek na ’n 3 liter-turbodiesel in die WK-reeks.

Ek het my Jeep uiteindelik op Gumtree raakgeloop en hom gaan haal by ’n ou in Simonstad.

Die kar het ’n bietjie gerook, maar die prys van R65 000 het my oortuig om ’n kans te waag.

Die weelde wat jy kry, die leersitplekke... hy’t alles wat ’n mens nodig het.

Die verfwerk was nog goed – ja hy’t ’n paar krapmerkies, maar oor die algemeen was dit ’n winskoop.

Dié Jeep Grand Cherokee Limited is die Europese model en hy verskil effens van Berno se Jeep, veral wat die middelkonsole betref. Berno het spesifiek ’n Grand Cherokee gesoek omdat hy ’n lekker groot bagasieruim het.

Binnelangs en toekomsplanne

Die bakkies (of cups) in die deurknippe aan die binnekant is besig om te breek en ek soek iemand met ’n 3D-drukker wat vir my nuwes kan druk. Verder lyk alles nog goed.

Dit is nie my elkedagse ryding nie; ek het ook ’n plaasbakkie wat ek vir werk gebruik, en my vrou, Liezel, ry ’n Mercedes-Benz C180.

Sy hou van haar Merc en soms stry ons oor waarmee ons die naweek gaan ry – maar dan wen die Jeep gewoonlik, want dit is my enigste kans om met hom te ry.

In die jaar en ’n half dat ek hom het, het ek nog net 8 000 km opgesit.

Ek, Liezel en ons twee seuns, Adriaan (13) en Heinrich (10), gaan kuier dikwels by my pa in De Kelders waar ek op Die Plaat gaan ry.

Ons was al op Hartenbos, teen die Weskus op en ons het gaan sneeu kyk by Ceres, maar weens die inperking was ons nog nie verder as Mosselbaai met die Jeep nie.

Ek beplan wel ’n reis deur Namibië, want Liezel was nog nie daar nie.

Wat ombouings betref, gaan ek my Jeep standaard hou. Niks dakrakke, modderbande of enigiets ekstra nie.

Kraglewering

My Jeep het ’n mikroskyfie ingehad toe ek hom gekoop het, maar ek het dit dadelik verwyder, want ek voel die 3 liter-turbodiesel het genoeg krag daarsonder.

Aan die begin het my Jeep effens papperig gevoel, en ná ’n lang gesukkel het ek hom na L&M Automotive op Stellenbosch geneem.

Hulle ondersoek toe die luginlaat en ontdek dat die warrel- kleppe (swirl flaps) vassit.

Dié kleppe keer besoedeling, maar rem ook werkverrigting, veral as hulle vassit.

Die werktuigkundige het hulle verwyder, én ook die katalisator, en nadat die programmatuur in die enjin se elektroniese beheereenheid (ECU) herskryf is, trek my Jeep nou soos ’n bees!

Slytasie

Die rook wat ek aan die begin opgemerk het, was weens die hoëdruk-dieselinspuiters wat besig is om onklaar te raak.

Ek het al drie van hulle vervang en daar bly nog drie oor, maar hulle kos ongeveer R9 500 elk en moet uit Duitsland ingevoer word.

Die voorste vering en dwars-asse kort ’n verstelling, maar dis ’n ou ryding en dus normaal – én hy het permanente viertrek, wat ’n bietjie ekstra spanning op veral die voorste vering plaas.

Ek het ook die busse in die voorste ewenaar en die lugreëling se pomp vervang.

Buiten die koopprys het ek nog altesame R35 000 aan my Jeep bestee.

Dit is maar die ding van ’n tweedehandse voertuig: Jy moet aanvaar daar gaan uitgawes wees om hom op standaard te kry of iets reg te maak.

Omdat ek so min betaal het, gee ek nie om om geld uit te gee en hom met elke nuwe onderdeel beter te maak as wat hy was nie.

Dit is nie ’n eksotiese ryding nie en onderdele is relatief maklik bekombaar by Jeep-agente.

Skrootwerwe het boonop heelwat Jeep-onderdele en ek kan allerlei stukke soos plastiekpanele daar kry.

Ek het werklik nog nooit gesukkel om onderdele in die hande te kry nie. Dit help natuurlik ook om by ’n Facebook-groep oor Jeeps en 4x4community.co.za se Jeep-forums aan te sluit as jy by ander eienaars raad soek.

Ons het die binneruim van Berno se Jeep goed deurgekyk en kan bevestig dat hy goed verouder het. Al die knoppies werk en die skrif daarop is duidelik leesbaar. Die stof op die enjin wys die Jeep ry nie net in die dorp rond nie.

Kan ek tweedehands koop?

Beslis! In die 15 jaar dat ek en Liezel getroud is, het ons tussen die twee van ons al 18 voertuie besit.

Dit maak nie saak hoe oud hy is nie; die Jeep ry gemaklik, hy’s groot genoeg en hy’t genoeg krag vir my behoeftes.

Ek waardeer die pakplek, en hoewel ons twee seuns oud genoeg is dat ons nie plek nodig het vir stootwaentjies en babagoeters nie, is daar maar altyd ’n klomp items wat moet saamgaan.

Hy’s betroubaar en ek sal nou in hom klim en Durban toe ry – ek wéét hy sal dit maak.

Op die langpad gee hy my ’n verbruiksyfer van 11,1 liter/100 km (9 km/l) en in die dorp sak hy tot by 13,3 liter/100 km (7,5 km/l).

Maar regtig, is dit enigsins ’n verrassing as ’n mens die aard en gewig van my Jeep in ag neem?

Ek glo nie ek gaan weer iets anders ry as ’n Jeep nie.

Neem deel!

Hierdie storie is deel van ’n reeks artikels wat fokus op ouer voertuie en spesifiek hoe hulle nou vergelyk met toe hulle nuut was.

Ons nooi jou om ook jou ryding oop te stel vir eerlike kritiek – net soos met Berno se Jeep sal ons vir die kragleweringstoets betaal en jou ryding se oorspronklike spesifikasies naslaan.

Stuur bydraes asseblief na cyril.klopper@media24.com as jy wil deelneem.