Die idee het reeds die jaar vóór die nasionale inperking posgevat. Aan die einde van Maart 2019 het ek aan myself die uitdaging gestel om – in aanloop tot ’n verjaardag – 60 disaspesies op te spoor.

Ek het van meet af aan geweet ek is nie juis opgewasse vir die taak nie. Ek het gevoel soos iemand wat vir die grap ingestem het om die Comrades te hardloop en die oggend van die marathon in diep water spartel.

Die grootste uitdaging? Ek is ’n groentjie wanneer dit by die uitken van plante kom. Ek het maande lank ál die boeke, artikels en wetenskapjoernale gelees wat ek in die hande kon kry.

Suid-Afrika het ’n uitstekende versameling natuurhistoriese boeke, en ek was telkemale in verwondering oor die mense wat hulle lewe aan klein spesialisvelde van die natuurwetenskap wy.

Morné op Tafelberg waar ’n groot verskeiden-heid blomme voorkom

Dis nie ’n maklike taak om disas te soek nie. ’n Mens kan die bekende rooidisa (Disa uniflora) met ’n bietjie moeite elke jaar van Februarie tot Maart in sy natuurlike habitat (sekere klowe teen Tafelberg) opspoor.

Ander disas is egter nie gereelde besoekers nie. Sommige blom slegs die eerste seisoen ná ’n veldbrand; ander maak weer in die twéede jaar ná ’n brand hulle verskyning, en enkeles blom net elke jaar vir ’n klompie jare ná ’n brand.

Ná ’n brand op Bettysbaai in 2019 het ’n magdom vleidisas (Disa racemosa) in die omgewing opgekom

Dit kom daarop neer dat sommige disas dalk maar 1 keer elke 20 jaar gesig wys – afhangend van die natuurlike brandsiklus in ’n spesifieke kol fynbos.

Die beplanning van die soektog was byna net so opwindend as om in die veld te wees. Ek het bykans al my vrye tyd afgestaan aan navorsing oor die sowat 140 disaspesies wat in ons land voorkom en ook elkeen se ekologiese vereistes om te blom haarfyn bestudeer.

Mettertyd het ek landskappe met nuwe oë begin sien: grondsoorte, dreineringslyne en hoogte bo seevlak was heel dikwels my sterkste leidrade wanneer ek ’n spesifieke spesie gesoek het.

Ek het elke keer aan die vooraand van ’n soektog soveel as moontlik feite oor die betrokke spesie in my kop probeer prop, soos iemand wat die volgende dag ’n groot eksamen moet skryf!

In my bed het ek lê en visualiseer hoe ek ’n ongewone blommetjie gewaar. En hoe ek terwyl ek naderstap, besef dis ’n baie skaars spesie – soos byvoorbeeld die Disa sabulosa.

Die Disa sabulosa het eens in die Kaapse Skiereiland voorgekom, maar groei nou net in ’n klein gebied tussen Pringle- en Bettysbaai.

Lank voor sonsopkoms was ek reeds in my motor op pad na ’n punt waarvandaan ek verskeie berghabitatte te voet sou deurkruis. En terwyl die son sak, sou ek bereken of daar genoeg daglig oor is om nog één helling te fynkam.

By my motor sou ek naarstiglik deur my veldbiblioteek blaai om ’n detail of ’n afwyking wat twee spesies van mekaar kan onderskei, te bevestig. Eers daarna kon my siel rus kry en ek ’n stukkie eet en water drink.

Dou lê vroegoggend op ’n??Harvey se Disa (Disa harveyana); Disa

Elkeen van my disadae was salig! Om dié uiters skaars en delikate blommetjies in die veld op te spoor was bedwelmend. Ek sou langs elke plant gaan sit en dié spesifieke wonderwerk van ewolusie deur ’n vergrootglas bekyk. Ek het bevoorreg gevoel om na aan iets só perfek en kosbaar te wees… 

Saam met die opwinding het daar ook ’n groot verantwoordelikheidsin oor die voortbestaan van dié plantjies in my gemoed kom lê.

Daar was natuurlik ook dae waarop ek kilometers ver sou stap en ’n paar duisend meter hoog sou klim en daal sonder om ’n enkele disa te sien. Ook sulke dae het skoonheid ingehou – daar was immers altyd ander plante, insekte en voëls wat my nuuskierigheid geprikkel het.

Ek het besef om iets werklik lief te hê moet jy dit eers leer ken; en dit geld ook Suid-Afrika se ryk biodiversiteit. Selfs al het ek my selfopgelegde taak ’n jaar later in Maart 2020 net voor die grendeltyd voltooi, het die nasionale inperking my opnuut bewus gemaak wat ’n mens alles in die buitelewe mis.

Ek het my getroos aan die gedagte dat die mensdom die natuur vir ’n slag ’n blaaskans gee.

Disa, die Skotse skaaphond, langs ’n jong bloudisa (Disa purpurascens)

Soveel ander mense het besef die lewe is beter wanneer jy veld toe kan gaan. Ons het geleer ons optrede kan dinge in ’n oogwink verander: Selfs die mees besoedelde nywerheidstede se lug was ’n paar maande lank weer blou.

Hopelik werk ons nou daaraan om vir ons kinders ’n beter aarde na te laat... Daar ís aanpassings wat die samelewing kan maak sonder dat die ekonomie daaronder ly. Die oorskakeling na herwinbare energie is maar een oplossing.

Ons behoort elke oggend wakker te word met die wete dat Suid-Afrika se natuurlike rykdom geen gelyke het nie. Ja, op die wêreldmark lê die rand disnis geslaan terwyl die pond, dollar en euro steeds pronkerig in die kryt ronddans, maar niemand kan hierdie natuurlike rykdom van ons af wegneem nie. Net ons.

Al hoe ons hierdie land se natuurskat kan verdedig, is om daarop verlief te raak. Dís wat die disas my geleer het.

Die laaste twee disas op my lysie het aansienlike beplanning geverg. Ek het laat in Februarie vertrek om hulle te gaan soek – eers na die noordvloeiende riviere van die Klein-Karoo vir die Disa cardinalis en daarna sou die Disa gladioliflora my na die hoë hange van die Outeniquaberg lok.

Mike Fabricius, haar eienaar, het die hond na sy gunstelingblom genoem

Dit was veral laasgenoemde wat weer bewys het hoe belangrik dit is om dinge ordentlik te beplan. My ma is in haar 90’s en ek wou haar só graag net ’n tikkie van die vreugde laat beleef wat my soeke na die vorige 59 disas my verskaf het.

Ek moes dus ’n gladioliflora opspoor waarby ’n mens maklik te voet sou kon uitkom. Ek het op Google Maps gesoek vir ’n pad wat ons hoër as 800 m bo seevlak sou neem tot by ’n spesifieke kol fynbos aan ’n suidoostelike hang – en dit ’n entjie binneland-in van Knysna gevind.

Ná meer as 2 000 km te voet oor berge, deur riviere, vleilande en valleie stap ek en my ma na die enkele blommetjie.

Die Disa ovalifolia is ’n raar spesie met ’n kenmerkende reguit das.

Nes met die vorige 59 disas voel dit asof ek die eerste mens is wat ’n volmaakte blom aanskou. ’n Groot dankbaarheid het my oorweldig – die jaar het my in voeling gebring met die natuur; met die teenwoordigheid van sy grootse diversiteit.

Ek was ’n gevoel van genoegdoening te wagte – my groot taak is volbring! – maar in plaas daarvan het ek my eie nietigheid ervaar.

Dit was asof ek in die naghemel opkyk en 60 sterre sien waarvan ek elkeen se naam ken. Met nóg miljoene sterre wat stilweg toekyk.