
Dag 1 (14,5 km)
Daar hang ’n mislaag oor die Robertsonvallei wanneer ons teen dagbreek vertrek vanaf die Kaaps-Hollandse herehuis op die Excelsior-wynlandgoed. Die omliggende wingerde gloei soos die eerste sonstrale van die dag verskyn, en die doudruppels blink soos amber op die wingerdblare. Ons stap in die lente en die wingerdblare is nog klein, maar jy kan jou voorstel hoe hierdie einste wingerde in oestyd sal lyk. En ons gaan ’n kans kry om dit te proe, want dis immers die Excelsior-wynwandel dié.
Die afgelope jare het wyn-staptogte oral opgeskiet, ook in Wellington, Stellenbosch en Hermanus, en dis maklik om te verstaan hoekom dit so gewild is. Soos die naam aandui, is dit deels staptog, deels wynproe. Jy stap bedags, maar eet en slaap luuks elke aand. Die stapafstande verskil ook van dag tot dag, sowat 14 tot 17 km. Die roete stop by ’n halfdosyn vooraanstaande wynkelders en daar is ’n paar nie-wynverwante verrassings langs die pad.
Al die dae begin en eindig by die statige Manor-gastehuis op Excelsior. Die plaas is al vyf generasies in die familie se besit en gaste word in nege stylvolle kamers ontvang. ’n Heilsame ontbyt en driegang-aandete word by die Manor bedien, en ’n ligte middagete word elke dag by een van die proelokale gereël.
Ons eerste aftrekplek is by die pragtige Huis van Chardonnay, die proelokaal op De Wetshof. Die gebou se fasade is ’n replika van die Koopmans-De Wet-huis in Strandstraat, Kaapstad, en ’n kopknik na die eerste De Wets wat in laat 1690’s na Kaapstad gekom het. Ons is nog effens lugtig vir die kombinasie van drink-en-loop, en proe versigtig. Maar ons kan nie die versoeking weerstaan om ’n paar kiste wyn te koop en tuis te laat aflewer nie. Kort voor lank is ons terug op die pad vir die kort stappie na die nabygeleë Van Loveren-wynplaas. Die proelokaal hier is in ’n welige tuin geleë.
Met twee wynproeë agter die rug maak ons gids die pas styf aan sodat ons darem bietjie kan sweet voor middagete. Namate ons nader aan die Breërivier kom, maak die wingerde plek vir mandaryn- en pruimboorde. Aan die anderkant van die rivier klim ons die rug van die voorheuwels van die Elandsberg vir ’n pragtige uitsig van die vallei onder ons. Dan, gelukkig vir ons, is dit afdraand na ’n boot wat ons na Viljoensdrift neem waar ons gaan wynproe en middagete eet. Van daar af is dit ’n kort stappie terug na Excelsior.
Dag 2 (13.5 km)
Dis ’n lekker vars oggend en ons val in die pad na Klaasvoogds, ’n wyk van die Robertson-wyndistrik noord van die R60 tussen Robertson en Ashton.
Ons stap verby boorde nektariens, pruime en pienk perskes. Naby die dam staan die riete hoër as kophoogte en jy sien die rooivinke baljaar. Ons loop op die agterpaaie deur die wingerde, langs die sitrusboorde en verby die hoenders en ganse.
Ons eerste aftrekplek vir die dag is Mark Doms se bloubessieplantasie. Hy verduidelik hoe jy ’n bloubessie kweek en hoe die toenemende gewildheid daarvan vir hulle die geleentheid gegee het om hul boerdery te diversifiseer.
“Tradisioneel was bloubessies klein, suur en sag, maar deesdae wil ons hulle groter en fermer hê. Die dop moet kraak as jy dit byt.” Ons proe ’n paar bessies direk van die bos af en hulle is inderdaad in ’n klas van hul eie.
Ons eerste wynproe vir die dag is by Kranskop – ons het nou al hierdie loop-en-drink-ding mooi onder die knie. Kort voor lank is ons terug op die pad, en die roete neem ons deur lappe veldblomme tot by die volgende plaas, die Marbrin-olyfplaas, waar Clive en Briony ons verwelkom. Hulle entoesiasme vir olywe is aansteeklik.
Ons proe ’n verskeidenheid olyfolies, vinaigrettes en tapenades voordat ons aanbeweeg na die olywe wat geoes is van die boom buite die proelokaal. My smaakkliere is die afgelope twee dae bederf deur goeie wyn, maar hier slaan die nuanses van die eenvoudige olyf my voete onder my uit.
Die middagete is ’n heerlike verskeidenheid tapas-vingerhappies. Daarmee skink hulle vir ons limoncello, wat saam met ’n paar bottels wyn die ervaring afrond.
Ons limoncello-geïnspireerde vrolikheid laat ons maklik klaarspeel met die kort stappie terug na ons beginpunt. Terug by Excelsior kry ons ’n geleentheid om ons gasheer se wyn te proe. Die De Wet-familie maak sedert 1859 hier wyn en die landgoed is bekend vir sy Sauvignon Blanc, Chardonnay, Shiraz, Merlot, Cabernet Sauvignon en Rosé.
Ons hou glad nie terug nie, want ons is klaar geloop vir die dag en ons gastehuis is net oorkant die pad.
Dag 3 (17 km)
Vandag stap ons in ’n suidoostelike rigting op teen die voorheuwels van die Langeberge.
Ons klim word beloon met ’n pragtige panoramiese uitsig oor die vallei onder ons. Van hier af kan ’n mens sien waar ons die afgelope paar dae gestap het, en ons volgende stop, die Zandvliet-wynlandgoed, word uitgewys.
By Zandvliet leer ek iets nuuts, naamlik dat die Robertsonvallei bekend is vir iets anders as wyn: renperde. Zandvliet is die geboorteplek van die bekende Pocket Power, en die nabygeleë Arabella-wynlandgoed het ’n lang geskiedenis van teel met renperde. Excelsior het ook die afgelope 100 jaar ’n paar kampioenperde opgelewer. Onderweg na Arabella sien ons ’n paar elegante merries en vulletjies in hul kampe wei.
Ná ons besoek aan Arabella stap ons vir oulaas terug na Excelsior vir middagete. Dit is die gepaste afsluiting van ’n unieke en bevredigende ervaring – vir ons Fitbits sowel as ons smaakkliere.
Ná drie dae waarin ons van die beste plaaslike wyne geproe het, kry ons die geleentheid om ons eie versnit te meng. In Excelsior se proelokaal hou elkeen sy lyf wynmaker en seël ons die kurk van ons unieke aandenking.
Wil jy ook gaan?
Koste: R5 000 per persoon wat deel vir drie dae. (R7 200 vir ’n enkelkamer.) Dit sluit in 3 aande se luukse verblyf, ontbyt, piekniekmiddagetes, driegang-aandete met wyn, wynproeë by verskeie landgoedere, riviervaart, eie wynversnit ervaring by Excelsior en gids.
Onthou:
’n Minimum van 6 gaste word vereis.
Stappe word aangebied van April tot September. As jy in ander maande wil stap, doen navrae oor die koste.
Die bootvaart by Viljoensdrift is onderhewig aan beskikbaarheid.
Die volgorde van die stapdae mag verander.
Kontak excelsiorguesthouse.co.za/activities