Deel

’n Roeitog oor die Atlantiese Oseaan… manalleen!

akkreditasie
Zirk Botha langs Ratel
Zirk Botha langs Ratel
Die Kapenaar Zirk Botha is ’n avonturier en ’n voormalige vlootoffisier.

Hy oefen tans druk op sy boot Ratel. Hy vertrek dié Desember op ’n epiese 90 dae lange roeitog (bykans 7 000 km) na Rio de Janeiro om bewustheid vir klimaatsverandering te skep en hernubare energie te ondersteun.

Zirk sal slegs kan staatmaak op sy fisieke krag, en die sonpanele wat sy boot se batterye en toerusting laai. Botha werk as bestuurder by juwi Renewable Energies, wat die uitdaging borg.

Ons het met hom gesels oor sy reis.

Hoekom het jy besluit om na Rio te roei?

Ek’s mal oor ’n uitdaging. Om oor die Atlantiese Oseaan te roei sal my uit my gemaksone neem, en gee terselfdertyd die geleentheid om bewustheid te skep vir volhoubare ontwikkeling en verantwoordelike verbruik. Ek gaan myself onderhou tydens my reis om te bewys dat hernubare energie ’n praktiese opsie is. ’n Toename in die gebruik van hernubare energie is noodsaaklik om klimaatsverandering te takel.

Watter vorige avonture en ervaring sal jou op die reis help?

Ek was ’n vegoffisier in die  Suid-Afrikaanse vloot, en het die Atlantiese Oseaan drie keer deurkruis tydens my diens. Ek is ook gekwalifiseer as ’n kaptein vir kommersiële jagbote. Buiten dit het ek al vele ultra-uithourenne voltooi, op die Okavangodelta geroei, na die Epupawaterval gery op ’n motorfiets en drie weke lank oor die Himalajas getrek sonder enige ondersteuning.

Zirk Botha
Zirk Botha

Wat dink jy gaan jou grootste uitdaging op die reis wees?

Ek dink die emosionele impak om op my eie vir so ’n lank te wees gaan veel moeiliker wees as die fisieke uitdaging.

Hoe gaan jy jouself onderhou?

Ek sal in sessies van twee uur roei. Elke skof sal ’n blaaskans insluit om te strek, te eet en te rehidreer. Ek het saam met my veldtogbestuurder ’n voedingsplan saamgestel wat saam met my gewone maaltye ’n wye verskeidenheid peuselgoed, neute en droëvrugte insluit. Al my kos gaan ontwater word om die gewig te verminder. 

Ek sal omtrent 10 liter water ’n dag drink en 8000 kalorieë per dag inneem. Maar ek verwag om ongeveer 12 kilogram te verloor op die reis. 

My kajuit is klein, maar het genoeg spasie om goed te slaap. 

Hoe berei jy voor?

Ek doen verskeie oefeninge om my liggaam te kondisioneer en uithouvermoë te verbeter. Ek het tydens inperking gewigsoefeninge en weerstandsoefeninge gedoen, en roei ook tans my boot Ratel so gereeld as moontlik in Simonstad. 

Jy het self jou boot Ratel gebou. Watter eienskappe het dit?

Nadat ek besluit het om na Rio te roei was my eerste prioriteit om ’n geskikte boot te kry. Die Europese bote is ongelooflik duur weens die wisselkoers. Plan B was om my eie boot te bou!

Ek het die planne gekoop by ’n vlootargitek in die Verenigde Koninkryk. Ratel sal ongeveer 500 kg weeg nadat alles gelaai is, en alles moet vasgebind word vir ingeval ek ’n storm trotseer. Ratel is toegerus met 276 watt sonpanele, wat twee batterye 200 Ah kapasiteit verskaf.

Dit gaan krag verleen aan alles van my ontsouter, radio, en veiligheidstoerusting en sal ook my satellietkommunikasietoerusting, kameras, selfoon, hommeltuig en musiektoestel laai. 


Volg Zirk se reis op sy Facebook-blad, asook trackamap.com/row2rio2020/.