’n Beangste fluistering het oor die wêreld neergedaal. Dit het skoon eienaardig gevoel, byna waaghalsig, om iets alledaags te doen soos om kruideniersware te koop. En onthou jy nog hoe ingehok jy in jou eie huis gevoel het?

Vir neushoringvoëls – daardie koddige dog ikoniese inwoners van die savanne – is só ’n bestaan egter niks nuuts nie. ’n Grendeltyd is élke jaar deel van hulle kalender en gevolglik iets wat hulle tot ’n kuns verfyn het.

Eerstens kies die neushoringvoël ’n geskikte plek vir sy nes. Vir die meeste spesies is ’n natuurlike holte in ’n boom goed genoeg.

Die Monteirose neushoringvoël wat in woestyngebiede hou, bou gewoonlik sy nes teen ’n krans of tussen klipstapels.

Geelbekneushoringvoëls se nesholtes kan so laag as 75 cm bo die grond tot so hoog as 12 m in ’n boom op wees en om een of ander rede wys dit gewoonlik noord. Die meeste neste het ’n ontsnappingsopening bo die hoofingang.

Die nes se ligging is wel van belang. Want sodra dié plek gekies is, gaan die wyfie moet vir lief neem om twee maande lank soos ’n gevangene in selfopgelegde kwarantyn in die nes deur te bring.

Sodra die wyfie binne-in die nes geklim het, seël sy die ingang met ’n mengsel van modder, haar eie mis en taai kosreste. Dié mengsel vorm ’n sementagtige deur met slegs ’n smal vertikale gleuf van 5-15 mm lank. Vir die volgende 46-51 dae is die wyfie geheel en al afhanklik van haar maat wat kos vir haar van buite deur dié spleet voer.

Ten minste kan sy elke dag na ’n kulinêre smorgasbord uitsien wat hopelik haar verveling verlig.

Neushoringvoëls is omnivore en eet byna alles op die spyskaart. Die voël se krom snawel kan net so goed vrugte pluk as wat dit lewendige prooi soos insekte, spinnekoppe, skerpioene, honderdpote, reptiele, paddas, voëleiers, neskuikens en knaagdiertjies insluk.

Die snawel is darem ligter as wat dit lyk: Dit het ’n heuningkoek-struktuur en sommige spesies het ’n hol snawelhelm, wat help om die klank van hulle roep te versterk.

’n Mens sou dink dat só ’n knewel van ’n snoet sig belemmer, maar neushoringvoëls se oë is só geposisioneer om presies op die puntjie van die snawel te kan fokus. As jy ooit ’n neushoringvoël van naby kan bekyk, let op sy wulpse wimpers. Maar moet dit net nie te naby waag nie! Ek kan uit ervaring bevestig dat daardie snawel ook ’n formidabele wapen is!

Siende mev. N. Horingvoël nêrens het om te gaan nie benut sy haar tyd in die nes om te verveer en haar stert- sowel as vlerkvere val sommer tegelykertyd uit. Jy kan nou dink hoe kwesbaar sy in hierdie tyd vir roofdiere is. In teenstelling met die wyfie se manier van doen, verveer die mannetjie teen ’n stadiger pas met die vere wat een op ’n slag vervang word. Dus word hulle vliegvermoë nie belemmer nie.

Die eiers broei ná drie weke uit en met groeiende spruite in die nes raak Mamma se persoonlike ruimte nóg meer beperk.

Terselfdertyd het Pappa sy hande (of is dit nou snawel?) vol om almal se pensies vol te hou. Die kuikens groei teen ’n spoed, en tussen die ouderdom van 10 en 15 dae begin hulle om deur die spleet te mis.

Sowat drie tot vier weke nadat die kuikens uitgebroei het, kan die ma dit nie meer uithou nie, en breek die nes se deur om ’n slag vars lug te kry – kan jy jou daardie verligting indink? Wel, ná 2020 se gekheid dink ek almal kan!