Ek neem aan op skool word leerlinge in toerismestudies blootgestel aan ’n konsep wat marksegmentering genoem word. Dit is ’n proses waar ’n spesifieke mark – soos die kampmark – in groepe of segmente verdeel word.

Elke segment bestaan uit groot getalle verbruikers wat soortgelyk sal reageer op bemarkingstrategieë van byvoorbeeld kampplekke en woonwavervaardigers.

Die meeste verbruikers in so ’n segment het dieselfde belangstellings en behoeftes wanneer dit kom by vakansies, wegbreeknaweke en die aankoop van kamptoerusting.

Natuurlik verskil elke mens se smake, gewoontes, voorkeure en motivering. Daarom sal een ou dit verkies om nie ’n televisie te hê as hy kamp nie, terwyl ander nooit daarsonder sal weggaan nie.

Segmentering volgens geboortejaar is ’n proses wat wêreldwyd byval vind. ’n Amerikaanse stigting wat navorsing doen oor kamp, het dié generasie-segmentering gebruik om verbruikerspatrone te ontleed – en ’n klompie interessante tendense raakgesien.

Volgens die navorsing is die grootste segment die sogenaamde millenniërs. Hulle is tussen 23 en 38 jaar oud en het ’n groot liefde vir die buitelewe. Omdat hulle hardwerkend is en skoolgaande kinders het, is hulle wegbreeknaweke beperk tot ’n radius van 100 km van die huis af.

Hulle wil mooi kampfoto’s aanlyn sien, aan aktiwiteite in en om die kampplek deelneem, en hulle kinders moet kan besig bly. Millenniërs wil ook gewilde kampoorde besoek en het ’n groter lojaliteit teenoor plekke wat aan al hulle behoeftes voldoen.

Generasie Q, die sogenaamde Baby Boomers, sluit mense in wat gebore is kort ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog (1946), tydens die Koreaanse oorlog (1950-1953) en die vroeë jare van die Koue Oorlog (1947-1962). Die meeste van hulle is naby aan aftrede en wil goedkoper kamp. Hulle vermy ook woelige kampplekke, veral oor naweke.

’n Groot deel van dié twee generasies kamp egter wel in die besige tye soos skoolvakansies omdat hulle tyd saam met die kleinkinders deurbring. Generasie X is mense wat tussen 1965 en 1980 gebore is. Gen X-ers is selfversorgend, vindingryk en individualisties. Hulle waardeer vryheid van keuse en hou van uitdagings. Hulle wil nie noodwendig stilsit by ’n kampplek nie.

Mense in Generasie Y is gebore tussen 1981 en 1996. Hulle is gaande oor die tegnologie, gefokus op die gesin, prestasiegerig, en hou van spanwerk. Hulle geniet aandag, werk hard en hou daarvan om nuwe kampplekke te besoek.

Generasie Z, ook bekend as Zoomers, is gebore van die middel tot laat jare negentig tot vroeg in die nuwe millennium. Hulle hou van diversiteit en wissel kamp en vaste verblyf af deur die jaar. Hulle is die eerste digitale boorlinge en hou daarvan om as ’n tegnologiese ervaring kampplekke se webwerwe te besoek.

Generasie Alpha (of kortweg GenAlpha) is ná 2005 gebore en is die potensiële kampsegment van die toekoms. Een navorser het bevind dat tot 97% van GenAlpha-respondente wat aan sy navorsing deelgeneem het, dit sal geniet om te kamp as dit beteken hulle ouers kan ontspan.

Hoewel die meeste van hulle nog in hulle kinderskoene is, sal GenAlpha, wanneer hulle ouer word, die mees gevorderde generasie nóg wees, danksy die tegnologie en onmiddellike inligting tot hulle beskikking. Hulle sal in die toekoms baie unieke en spesifieke verwagtinge hê ten opsigte van vakansiekeuses.

Ongelukkig het ons nie veel inligting oor die Suid-Afrikaanse kampsegmente nie, en ek wonder soms hoe noukeurig woonwavervaardigers die behoeftes van verbruikers ontleed.

Daar is ’n kampplek in Dinokeng wat oor langnaweke en skoolvakansies uit sy nate bars.

Volgens my kry hulle dit reg om ’n omvattende produk aan Gautengse kampeerders te bied wat in die uiteenlopende behoeftes van die generasies gelyktydig voldoen – van ’n waterglybaan tot private staanplekke.

Daar is ook voorbeelde waar kampplekke unieke ervarings bied en heel suksesvol op kleiner marksegmente fokus. Die kampuitleg is intiem, staanplekke is ruim, ablusiegeriewe is modern en kampeerders moet hulleself kan besig hou.