In Februarie trek die meeste van die wabouers oudergewoonte saam om hulle nuutstes en bestes by die Buite-ekspo buite Malmesbury en die Kamp-en-bestemmingskou in Midrand ten toon te stel.
Die boswoonwavervaardiger Conqueror het sy bestaande modelle met ’n hipermoderne reeks aangevul. Conqueror se boswaens word hoofsaaklik van staal gemaak, maar die romp van die nuwe UEV-reeks – dit staan vir Urban Escape Vehicle – word hoofsaaklik van ’n nuwerwetse materiaal gemaak wat in die lugvaart gebruik word.
’n Hele paar vervaardigers gebruik deesdae soortgelyke panele, maar dié wat Conqueror gebruik, is solied en sonder lae. En dié materiaal, sê Clive Cox, die man wat saam met sy span gestalte gegee het aan die UEV-reeks, maak die waens rondom 15% ligter. Die panele is 20 mm dik, en dit sluit die vloer in.