Van waar die liefde vir stap en die buitelewe?

My liefde vir die natuur, kamp en stap het kleintyd reeds ontwikkel toe ek in die jare vyftig ’n Voortrekker in die Bellville-kommando was. Toe ek aan die Universiteit Stellenbosch studeer het, het ek gereeld saam met die universiteit se stapklub, die Berg-en-Toerklub, gestap.

Ek het later ’n geografie-professor aan die Universiteit van Pretoria geword. Vir my meestersgraad in landskapsargitektuur het ek navorsing gedoen oor die Magaliesberg-natuurgebied. Dit het my laat besef dat ons weldeurdagte voetslaanpaaie nodig het vir mense om die natuur op ’n verantwoordelike manier te ervaar. Ek het byvoorbeeld baie erosie en swak roetebeplanning gesien en toe deeglike navorsing daaroor begin doen.

Kan jy ’n voorbeeld gee van swak roetebeplanning?

’n Roete moet byvoorbeeld nie soggens vroeg reg teen die son in loop nie – stappers sal sukkel om te sien en foto’s te neem. ’n Swemgat moenie tienuur soggens al bereik word nie, maar eers later wanneer stappers moeg en warm is en lafenis soek. Lang, reguit paadjies teen ’n “eindelose” opdraand is swak beplanning. Paadjies moet sover moontlik aan die suidekant van bome hou vir meer skaduwee op warm somermiddae.

'n Roete moet byvoorbeeld nie soggens vroeg reg teen die son in loop nie – stappers sal sukkel om te sien en foto’s te neem. ’n Swemgat moenie tienuur soggens al bereik word nie, maar eers later wanneer stappers moeg en warm is en lafenis soek.

Hoe het jy by VOSA betrokke geraak en wat behels julle werk? Ek en Albert Bossert het sowat 15 jaar gelede besluit om ’n vereniging te begin wat kan omsien na die voetslaanbedryf. (Albert is ’n staplegende in eie reg wat onder meer die Khomas-Hochlandroete in Namibië help uitgelê en help bou het. Erns Grundling het dié roete in 2017 saam met Albert gestap – lees sy storie in Weg #160 – Red.)

Die regering sien om na al die ander bedrywe in die toerismebedryf, soos die Toerismegraderingsraad wat gehaltebeheer in die hotelbedryf toepas, maar voetslaan het nie ’n organisasie of struktuur wat dié werk doen nie.

Daar is dus nie riglyne vir die behoorlike beplanning, onderhoud en bestuur van staproetes nie. Roetes het baie agteruitgegaan en eienaars van grond met roetes daarop het in die algemeen nie belang gestel in die bewaring van die omgewing nie. Die uitleg en beplanning van roetes het ook veel te wense oorgelaat.

VOSA skep ’n platform waar stappers, eienaars, die toerustingwinkels en die regering kan saamwerk om iets hieraan te doen. Ek is die voorsitter van die gehaltebeheerkomitee.

VOSA gebruik die Groenvlagstelsel om die gehalte van staproetes en wandelpaaie te meet en beheer. Hoe werk dié stelsel?

Die hoofdoel van die Groenvlagstelsel is om te verseker roetes word verantwoordelik bestuur.

Dit kom basies neer op drie hooffasette:

1) Die inligting wat die roete-eienaar gee (soort roete, verblyf, omgewing, die moeilikheidsgraad, ensovoorts) moet volledig wees sodat stappers ’n ingeligte besluit kan neem oor of hulle dié roete wil doen;

2) die roete moet veilig wees en as daar ’n risiko-element is, moet dit verantwoordelik bestuur word;

3) die paadjie moet op ’n omgewingsvriendelike wyse bestuur word.

As ’n paadjie byvoorbeeld ongelyk is en stappers stap dan langs die paadjie om geswikte enkels te vermy, gaan nóg ’n paadjie mettertyd langsaan geskep word, wat tot meer erosie kan lei.

’n Goeie roete gaan dus nie daaroor dat ’n paadjie ’n sekere lengte of moeilikheidsgraad moet hê nie. Die stapper moet bloot genoeg inligting hê om te besluit of hy die roete wil doen. Daar is nie iets soos ’n “goeie staproete” nie – dit hang af van waarvoor jy op ’n sekere dag lus is.

Baie stappers het slegte ervarings op van ons roetes en gaan stap dan nooit weer nie. Die stapbedryf het ’n gehaltebeheerstelsel dringend nodig.

Wat is die voordele van die stelsel?

Stappers kan altyd gerus wees dat hulle ’n goeie ervaring gaan hê en waarde vir geld kry. Baie stappers het slegte ervarings op van ons roetes en gaan stap dan nooit weer nie. Die stapbedryf het ’n gehaltebeheerstelsel dringend nodig. Suid-Afrika het die potensiaal om ’n droombestemming vir internasionale stappers te word.

Hoe meer oorsese lande die stelsel begin toepas, hoe meer waardevol sal dit word omdat dit goed sal wees vir staptoerisme. Die World Trails Network het reeds die wêreldwye toepassing van die stelsel in beginsel aanvaar, maar prakties moet daar nog heelwat kwessies uitgestryk word.

Hoe kan die publiek betrokke raak? Goeie roetes is ’n kwessie van vraag en aanbod. As stappers nie vra vir roetes van ’n hoë gehalte nie, gaan roete-eienaars nie die moeite doen nie. Stappers behoort voor elke bespreking eers te vra of ’n roete Groenvlagstatus het. Dis nie duurder as ander roetes nie, en dit beteken nie dis ’n luukse roete nie (baie geharde stappers dink glo só!).

’n Roete se geriewe hoef ook nie opgradeer te word om Groenvlagstatus te kry nie – tensy daar swak roetemerkers is en die omgewing agteruitgaan weens die gebrek aan onderhoud van die roete.

Het jy ’n gunsteling-staproete in Suid-Afrika? Dit hang af waarvoor ek lus is! As ek ’n antwoord móét gee... Magoebaskloof was nog altyd ’n gunsteling. Daar is mooi inheemse woude, swemplekke en ook interessante geskiedenis – dis waar houtkappers jare gelede stink- en geelhout gekap het vir spoorwegdwarslêers. ’n Mens sien van die oudste bruggies oor stroompies, sleeppaaie, saagputte en die sleepsteen-muilstalle.

Wat is jou droombestemming? Ek sal graag die Great Ocean Walk aan die suidkus van Victoria, Australië, wil gaan stap. Die gebied is wêreldwyd bekend vir sy Twaalf Apostels. Ek het die roete tien jaar gelede beplan op versoek van die Australiese regering, maar ek het nog nooit weer kans gekry om dit self te stap nie!

Lees meer oor Groenvlagroetes by greenflagtrails.co.za