Ons is al die laaste vyf jaar pensioentrekkers en het die beginselbesluit geneem om rustig te raak en die lewe te geniet – en vir ons beteken dít om gereeld te kamp.

Die Drakensville-oord is fantasties en ons geniet dit baie om hierheen te kom. Ons het sowat 12 jaar gelede die eerste keer kom kuier en was sedertdien al ’n hele paar keer weer hier.

Dit help ook dat dit presies in die middel is tussen Welkom en die Suidkus van Kwazulu- Natal, amper tot op die kilometer.

As ons see toe gaan, staan ons eers ’n week hier en met die terugkomslag weer ’n week.

Hoe lyk die kampterrein?

Hier is meer as 80 staanplekke en die meeste van hulle het plaveiblaaie. Ons sleep ’n Penta en slaan die stoeptent én die hooftent op, en dit is meer as groot genoeg vir die hele spul.

Op jou staanplek is jou kragpunt (blou prop), vullisdrom en kraan.

Drakensville se mense bring vir jou ’n losstaande braaier met ’n rooster wanneer jy aankom, en hier staan ligte deur die kampterrein versprei.

Nie al die staanplekke het koelte nie, maar as jy verkies om in die koelte te kamp, is hier wel kolle waar jy onder die bloekom- en ander bome kan staan.

Ons is nie gepla met koelte nie en hou veral van die voorste staanplekke wat op die berge uitkyk – wanneer ons bespreek, vra ons altyd vir Cathy by die ontvangskantoor om een van hulle vir ons te hou.

Hoe lyk die ablusiegeriewe?

Hier is twee groot ablusieblokke wat 50 treë van die meeste staanplekke af is. Dis modern, skoon en netjies, soos ’n mens van ’n ATKV-oord verwag.

Dit word gereeld gediens en ons het nog nooit probleme ervaar soos warm water wat opraak nie. Bygesê, ons kamp net in die stiller tye en het dit nog nie beleef as die oord tjokkenblok is nie.

Maar ek kan nie dink dat daar enige probleem is nie.

Watter aktiwiteite is hier om mense besig te hou?

Hier is twee verhitte swembaddens waarvan een onder dak is, en dan ook die groot kouewaterswembad.

Die glybaan sorg vir groot pret onder die jong klomp, én hier is ’n minigholfbaan, speelparkie, staproetes, boogskiet en perdry.

Die oordmense kan ook jou help om avontuursport te reël.

Is hier ’n winkel?

Ja, en daar is redelik baie op die rakke. As jy enige basiese kruideniersware vergeet het, sal jy waarskynlik hier geholpe raak.

Jy kan ook hardehout, bier en wyn hier aanskaf en dan verkoop hulle verder ook ys, hout, koeldrank, lekkergoed, roomys en selfs klere.

Hier is ’n restaurant en ’n kiosk by die swembad waar ’n mens wegneemetes kan bestel.