Hy en Colin Bell het die omvattende boek The Last Elephants saamgestel, wat tans wêreldwyd opslae maak en ’n direkte impak het op die bewaring van olifante reg oor Afrika, veral in ’n tyd dat die voortbestaan van hierdie spesie werklik bedreig word. Die boek het 42 hoofstukke deur van Afrika se voorste olifantkenners, bewaringsgesindes en ander betrokkenes. Die fotografie is uitsonderlik en herinner ’n mens hoe kosbaar olifante is.
Ons het geweet olifante word in Afrika gestroop, maar die sensus se data het gewys op watter gruwelike skaal dit plaasvind. Dit was skokkend. Van drie miljoen tot vier miljoen olifante ’n eeu gelede was daar nou slegs 350 000 savanne- en 100 000 woudolifante oor. Stropers het sowat drie olifante per uur doodgemaak. Teen dié tempo is die vrektesyfer van olifante aansienlik hoër as die geboortesyfer, en dit beteken ons kan die einde van olifante in die natuur sien.