In An Elephant in my Kitchen, die opvolg van die internasionale topverkoper The Elephant Whisperer (2009) skryf Françoise (saam met Katja Willemsen) hoe sy en haar span wildbewaarders en vrywilligers Lawrence se nalatenskap bewaar het en hoe sy sonder hom by Thula Thula aangepas het. Sy vertel vir Calyn Moneron meer oor haar werk en boek.

Wat het jou gehelp om vorentoe te kyk ná jou man se dood?

Die bewaring van ons renosters was my verantwoordelikheid; dus het ek geen ander keuse gehad as om die stryd om hulle oorlewing voort te sit nie. Ek het deur ’n baie moeilike tyd gegaan ná Lawrence se afsterwe en ek het eensaam gevoel in hierdie stryd.

Ek het egter ’n organisasie sonder winsbejag gestig en danksy die hulp van skenkers kon ek renosters se bewaring verskerp, my teenstropery-eenheid vir die beste opleiding stuur en ook nuwe toerusting koop.

Die mense van Thula Thula en my vyftig werknemers was ook my verantwoordelikheid en het my baie ondersteun ná Lawrence se dood – dus het ek weer eens geen ander keuse gehad as om voort te gaan nie. En ons spesiale trop olifante het my ook natuurlik baie gehelp.

Wat is jou gunsteling-herinnering aan Lawrence?

Sy ongelooflike sin vir humor. Hy kon die mees histeriese opmerkings onder moeilike omstandighede maak! Hy was ook ’n ewige optimis en iemand vol lewenslus.

Waarom het jy besluit om dié boek te skryf?

Baie mense het daarvoor gevra. Hulle het gehou van The Elephant Whisperer en was nuuskierig om te hoor wat gebeur het ná Lawrence se afsterwe.

Mense het gedink Thula Thula het toegemaak en daar was selfs gerugte dat ek teruggekeer het na Frankryk!

Ek wil ook met dié boek groter bewusmaking skep vir die werk wat ons hier doen en die bewaringsuitdagings wat ons het om ons wildreservate te beskerm, en die tragiese gevolge van stropery.

Hoe was dit om die boek saam met Katja Willemsen te skryf?

Wonderlik, ons was ’n goeie span. Sy skryf mooi en kreatief.

Wat het jy by die olifante in die reservaat geleer?

Olifante is beter as mense. Hulle hou nie op om my te verstom met hulle intelligensie of verrassende gedrag in sekere omstandighede wat geen wetenskaplike kan verduidelik nie.

Hulle welwillendheid en natuurlike manier om mekaar te help is besonders, asook die feit dat hulle oor al die menslike eienskappe behalwe ego en ’n bose kant beskik.

Ek bewonder ook hulle vermoë om te verstaan dat ons hulle by Thula Thula probeer beskerm en wil help om te oorleef. Hulle vertrou ons en weet hulle is veilig. Die olifante kom besoek my gereeld by die huis waar ek op Thula Thula woon – dit bly kosbaar. Hulle wonderlike én intimiderende krag, saam met hulle rustige geaardheid en weerloosheid maak hulle vir my die mees geliefde diere.

Dink jy dat jy eendag sal terugkeer na Frankryk?

Nee, maar ek gaan besoek wel een keer per jaar my familie en vriende daar.

Wat het jy geleer van wildbewaring sedert 2012?

Alles! Veral as ek dink ek het nie eens die woord geken toe ons 20 jaar gelede na Thula Thula verhuis het nie.

Ek het destyds slegs met al die administrasie en bemarking en gaste gewerk. Sedert Lawrence oorlede is, moes ek ook die bewaringswerk oorneem. Ons het intussen ’n reddings-en-rehabilitasiesentrum én vrywilligerskamp vir natuur-en-wildbewaring-opvoeding oopgemaak.

Ek het die sekuriteit en teenstropery-eenheid herstruktureer en die beskerming van ons wildlewe vergroot. Ek het ook die voorbehoeding van ons manlike olifante geïnisieer aangesien ons maksimumkapasiteit bereik het.

Ek werk tans aan ’n projek om ons grond te vergroot vir die olifanttrop sodat hulle kan floreer. Dis ’n gemeenskapsprojek wat aangepak is saam met die plaaslike hoofmanne en ons hoop om die nuwe gebied te begin omhein.

Ek het ook die South African Conservation Fund gestig om ons te ondersteun met ons bewaringsprojekte.

Wat wil jy deur die boek met lesers deel?

Teëspoed en uitdagings is deel van die lewe, maar dit gaan oor hoe jy reageer. Ek was gedwing om my realiteit te trotseer.

Ek glo ook ’n mens moet altyd na die positiewe aspekte van die lewe kyk, selfs as alles rondom jou inmekaarstort.

Die belangrikste is om nooit moed op te gee nie, selfs as jy voel jy wil net weghardloop. Deur ’n probleem te takel kan jy ’n oplossing vind. Maar bo alles: Moet nooit moed opgee nie.

Watter diere is tans by die rehabilitasiesentrum?

Ons het verskeie diere wat koedoes, muskeljaatkatte en ’n grysduiker insluit.

Alle diere wat gerehabiliteer word, sal eendag deel wees van die wildlewe op Thula Thula.

Wat moet mense weet wat Thula Thula wil besoek?

Ons het die mees unieke trop olifante, ons renosters is dierbaar, ons wildbewaarders puik en die blyplek en kos uitstekend.

Wat lê voor vir Thula Thula? Die uitbreiding van ons grond is die volgende groot projek. En dalk kry ons leeus volgende jaar? Dan sal ons ’n ware Groot Vyf-wildreservaat wees.


An Elephant in my Kitchen word uitgegee deur Pan Macmillan en kos R290 in boekwinkels