Hy is al as Afrika se tweede Wilbur Smith beskryf. Tony is só lief vir die bos dat hy deesdae ses maande van die jaar in Suid-Afrika woon. Hy vertel ons meer van sy skrywerslewe en sy splinternuwe roman, Captive, wat in Suid-Afrika en Mosambiek afspeel.

Vertel ons van jou eerste besoek aan Suid-Afrika.

In 1995 het my vrou, Nicola, vir ons ’n selfryvakansie in Suid-Afrika, Zimbabwe en Botswana bespreek. Ons het van Sydney na Johannesburg gereis, en met ’n gehuurde Toyota Corolla sonder lugverkoeling reguit Kruger toe gery. Die eerste kamp waar ons oornag het, was Pretoriuskop, en dit bly steeds ons gunstelingkamp.

Die vakansie was opwindend, onvoorspelbaar en anders as enigiets wat ek al ervaar het. Dit was veronderstel om ’n eenmalige vakansie te wees, maar ons het reeds ná een week in die bos ons terugkeer begin beplan.

Jy het jou eerste boek op ’n latere safari geskryf?

Ja, met ons derde besoek aan die land het ons ’n ou Land Rover gekoop en vier maande lank deur Suider-Afrika getoer. Ek het reeds by ons eerste oornagplek – wéér Pretoriuskop – my skootrekenaar uitgehaal en besluit om ’n boek te probeer skryf.

Ek het tevore ’n roman probeer skryf wat in Australië se Outback afgespeel het, maar dit is nooit gepubliseer nie. Maar by Pretoriuskop het ’n oorlandvoertuig langs ons geparkeer en ek het besluit om ’n avontuurverhaal oor só ’n toer te skryf. Ek het die reëlboek weggegooi en sonder ’n beplande storielyn begin.

Elke dag het ek geskryf soos ons gereis het. Daardie eerste boek, Far Horizon, is in 2004 gepubliseer.

Skryf jy steeds jou boeke op die plekke waar jy reis?

Ja, lesers kan die roetes van ons reise deur wildreservate en dorpies in die boeke volg. Dit is vir my belangrik om in die oomblik inspirasie te kry by mense en die natuur.

Ek moet luister waaroor die mense praat en hoe hulle met sekere kwessies omgaan, soos stropery. Ek probeer om ses dae per week 1 800 woorde per dag te skryf wanneer ek en my vrou saam op safari gaan. Die karakters leer ken ek soos ek vorder en ek werk steeds sonder ’n beplande storielyn of struktuur. Ek kan nie ’n roman sit en skryf in ’n tweeslaapkamerwoonstel in Sydney en die bos vasvang nie.

Ek moet die voëlgeluide en die brul van ’n leeu kan hoor en ’n braai in die aand kan ruik. Wanneer ek ’n plek soos Manapoele in Zimbabwe besoek, haal ek gewoonlik vinnig my skootrekenaar uit en begin skryf.

Die plekke inspireer my só dat ek nie anders kan nie as om my gewaarwordinge te begin opteken. Om te reis en te skryf is al wat ek in my lewe wil doen. Ek is baie lief vir my werk en weet nie hoe ek anders my tyd sou deurbring nie.

Wie geniet jou boeke?

Ek was nogal verras om te hoor dat meer vroue as mans my boeke lees. Dis gemik op enigeen wat belang stel in die bos en in bewaring en die probleme wat deur Afrika se wildlewe in die gesig gestaar word. En veral mense wat ondanks al die probleme steeds optimisties bly. Ek hou van ’n gelukkige einde.

Dis gemik op enigeen wat belang stel in die bos en in bewaring en die probleme wat deur Afrika se wildlewe in die gesig gestaar word.

Watter ander skrywers se boeke lees jy graag?

Bill Bryson is my gunsteling. Ek het onlangs sy boek The Road to Little Dribbling gelees, waar hy Engeland herbesoek as ’n effens nukkerige ouer man. Dis die opvolg van sy Notes from a Small Island. Ek bewonder sy humor en sy vermoë om die kern van ’n plek en sy mense vas te vang.

Jy woon deesdae ses maande van die jaar in Suid-Afrika?

Die Laeveld is my ander tuiste. In Sydney geniet ek en my vrou die stadslewe en by die Sabiepark-natuurreservaat woon ons digby die Kruger, in ’n huis in die bos wat omring is deur diere. Die reservaat het ’n inwonende luiperd en ’n lieflike piekniekplek op die Sabierivier.

Julle kamp steeds gereeld. Enige wenke vir ons lesers?

Kamp mag dalk ongemaklik wees, maar pak altyd ’n regte kussing en duvet in. Sorg dat jy ’n goeie yskas het; ’n koue bier los die meeste probleme op. Gesels voor die tyd met ander mense, maar gaan kyk en besluit dan self oor die plekke wat jy besoek.

Vertel ons van jou nuwe boek Captive, wat in Suid-Afrika en Mosambiek afspeel.

Ek het al verskeie wildveeartse ontmoet. Hierdie mense is soos soldate in die oorlog teen stropery en word dikwels blootgestel aan trauma en tragedie. Maar hulle hou eenvoudig aan werk.

Ek het besef hier is ’n storie wat wag om vertel te word met ’n wildveearts as een van die karakters. Die boek kyk ook na nieregeringsorganisasies en die politiek wat daar afspeel.

Ek het besef hier is ’n storie wat wag om vertel te word...

Maar eintlik gaan dit oor die onblusbare veggees van goeie mense. Ons raak so gewoond aan al die terugslae en verliese dat ons die goeie bewaringswerk op ’n daaglikse basis miskyk, en ek wou daarop fokus.

Hoe lyk die res van jou jaar?

Ek het sedert my eerste roman gepubliseer is, nog elke jaar ’n nuwe boek geskryf. Vanjaar is ek bevoorreg om twee boeke te publiseer, Captive in April en Scent of Fear in Desember, wat gaan oor snuffelhonde wat ingespan word in die oorlog teen stropery.

Daar word deesdae gereeld van hierdie honde gebruik gemaak naby ons blyplek in die Laeveld. En dan beplan ek ’n volgende roman wat afspeel in die Kgalagadi en in Namibië; dus is dit weer tyd vir my en Nicola om op ’n safari te gaan...


Captive word uitgegee deur Pan MacMillan en kos R290 in boekwinkels.