Ons het onlangs die Otterroete aangepak en Suzaan Hall se artikel in die 2019-Stapgids was baie waardevol. Dag 5 het egter anders geëindig as Suzaan s’n. Net soos ons Nature’s Valley se strand bereik het, het ’n bordjie (inlas) aangedui ons moet bos-in stap.
Van daar af was dit sowat 4 km tot by die De Vasselot-ruskamp, wat ’n kruising deur ’n yskoue rivier en ’n stuk teerpad ingesluit het. Wat ’n teleurstelling toe ons daar aankom en besef dis waar die Otter eindig. Die ontvangsdame het gesê as ons nog 2 km padlangs stap, sal ons wel by Nature’s Valley aankom, maar teen daai tyd was ons net te moeg.
Ons het dus nooit ’n hamburger of Otter-shooter gesien nie! Ons het ook aangeneem dat ’n bussie ons gratis sou terugneem na die Stormsriviermond-ruskamp, wat nie die geval is nie. Ons groep het toe R580 opgedok vir dié diens.