Die slang se kleur wissel afhangende van waar jy hom aantref: In die Wes- en Oos-Kaap is die mannetjies gewoonlik donkergrys of swart met geel, oranje of groen sye; wyfies is bruin. In die res van Suider-Afrika is die mannetjies soms heldergroen – dikwels met swart lyntjies tussen die skubbe, wat aan die lyf ’n geruite voorkoms gee. Weer eens is die wyfies meestal bruin. ’n Jong slang is korter as 80 cm en nooit groen van kleur nie, maar eerder grys tot grysbruin met groot smaraggroen oë.
Die boomslang is loshande een van die giftigste slange in Afrika en sy hemotoksiese gif stuit die liggaam se vermoë om bloed te stol wat maak dat die mens of dier wat gebyt is, ure ná die tyd nog onbeheersd bloei.
By mense kan jy die eerste simptome binne 4 tot 30 uur ná ’n byt begin waarneem en dit is nogal grusaam: Dit begin dalk met ’n hengse hoofpyn en ’n neus wat bloei. Maar naderhand bloei die slagoffer uit al sy slymvliese, liggaamsopeninge, longe en niere.