Die plan was om dit op my skootrekenaar op die vlug van Johannesburg af na Kaapstad te skryf, maar die vlug is vol en ons is soos oorryp vrugte in die betrokke mango-krat geprop. My rugsak moet onder by my voete en die reus in die middelste sitplek langs my lyk soos ’n skopbokser uit Oekraïne wat die vorige aand te hard gekuier het.
Ons is sewende in die ry om op te styg by O.R. Tambo, dan sesde. Nog vyf minute gaan verby, en ons is vierde in die ry. Die bedompigheid wat deur die mensemassa uitgestoom word en die gebrek aan beweging is vir Sergei, die skopbokser, net te veel. In een beweging rol sy kop agteroor, val sy oë toe, skarnier sy mond oop en kantel hy in stadige aksie na my kant toe. Ek weet: Hier gaan ek nie geskryf kry nie.
Ek sit langs die venster, en kyk hoe die Groot-Karoo onder ons verby gly terwyl eksistensiële dinge deur my kop maal. Dis nie net die stille uitgestrektheid van die landskap daar doer onder wat die gedagtes aanwakker nie: Op die lughawe het ek die boek Sapiens – A Brief History of Humankind deur die Hebreeuse geskiedkundige Yuval Noah Harari gekoop.