
Weg se avontuur is moontlik gemaak deur Hi-Tec, Arnigel en caminoways.com.
Afstand geloop: 17,95 km
Treë: 35 110
Tyd op die pad: 5 uur 35 minute
Ek is die oggend aan die ontbyttafel verlig dat die ander groepelede ook in die nag die troumars om ’n onverklaarbare rede op hierdie afgeleë plek gehoor het. Sommige is egter weer deur ’n hond uit die slaap gehou, maar ek weet genadiglik niks daarvan nie.
Vanoggend is die atmosfeer in die groep anders, maar lekker anders. Jy kan aanvoel dat almal goed gerus het en dat die vriendskappe nou al goed gevestig is. Ná twee dae op die pad het almal al kans gekry om met elke ander groeplid te gesels, en is niemand meer vreemd vir mekaar nie. Hierdie is werklik ’n besonderse groep mense.
Daar is egter ook ’n ander rede waarom die groep opgewonde is. Hoewel dit op die Camino by uitstek gaan oor die reis en nie oor die bestemming nie, is ons bestemming vandag iets om oor huis toe skryf. Pontevedra is naas Santiago de Compostela die grootste dorp in Galisië, en vanaand is Vrydagaand. Dis naweek!
Amelia en Marietjie het al twee aande gelede gevra of daar “live” musiek op Vigo was, maar Alex, die gids van caminoways.com (en ’n boorling van Vigo), kon nie ’n musiekhaas uit die hoed trek nie.
Op Redondela was ons op so ’n stil plek van die dorp dat ons skaars ’n wifi-sein kon kry, laat staan nog ’n kuierplek. Ons kon dus niks anders doen as rus nie. Maar Pontevedra, het Alex met ’n vonkel in sy oog beloof, gaan ons beïndruk. En daar gaan Marietjie en Amelia die dorp kan rooi verf.
Koes-koes na Arcade
Omdat ons op die snelweg buite Redondela is, moet ons vanoggend die eerste kilometer langs die snelweg loop om weer die Camino-pad met die tekens te kry. Die Camino word orals in Spanje deur ’n vereniging van vrywilligers in stand gehou, wat moeite doen om pelgrims wég van die snelweë te hou.
Jy loop dus meestal op bos-, agter-, plaas- en bergpaaie. As jy weer ’n kilometer lank op die skouer van ’n besige snelweg vir die verkeer moet loop en koes, besef jy weer watter guns hierdie vrywilligers jou doen.
By Arcade (’n gehuggie) swenk ons weg van die snelweg en begin ons op agterpaaie loop wat deur woongebiede kronkel. Ons loer skaamteloos by mense se opritte en agterplase in om ’n blik op die lewe op die Spaanse platteland te kry.
Napoleon se ‘ander Waterloo’
Ná die eerste sowat 4 km kry ons die pragtige Pontesampaio, ’n brug oor die rivier Verdugo wat in 1795 op die fondasies van die oorspronklike brug gebou is. Volgens ’n bordjie langs die brug het die plaaslike milisievegters Napoleon se magte hier ’n groot knou toegedien tydens die Onafhanklikheidsoorlog.
Die stappers deel die brug met een baan motorverkeer, wat beteken voertuie moet telkens geduldig wag vir verkeer uit die teenoorgestelde rigting.
Aan die ander kant van die brug is Café A Romana, waar ons ons oggendkoffie drink en die uitsig op die brug geniet. Sulke kuiertjies is elke keer die hoogtepunt van my dag. Hier is ook nogals ’n sandstrandjie en storte sodat mense kan swem, maar daar is ’n byt in die lug.
Ná Pontesampaio volg ons weer die agterpaaie totdat ons op plaaspaaie en veldpaaie die laaste kilometers na Pontevedra aflê. By Redondela het die Portugese kusroete en die binnelandse roetes van die Portugese Camino ineengesmelt, so ons kry van hier af baie meer pelgrims op die pad.
Twee gryskop Aussies hinkepink langs die pad. Hulle groet vriendelik, maar jy kan sien die een loop swaar. Hy het al sy stapskoene vir stapsandale verruil en sy hak is in ’n dik laag pleisters toegedraai. Ek kry hom jammer – dis nog ’n baie ver ent vir hinkepink.
Op ’n aanspeldbord langs die pad sien ons ’n Suid-Afrikaner het ook ’n besigheidskaartjie gelos. Pelgrims skep dikwels spontaan “monumente” langs die pad, waar hulle iets van hulleself los. Die rede daarvoor is eerstens prakties: As jy alles te voet moet saamkarwei, is jy heeltemal bereid om afstand te doen van alles wat oorbodig is en jou terughou. Daarom word onpraktiese skoene, ekstra klere en eetgoed dikwels sonder enige sentiment hier afgelaai.
Maar pelgrims doen dit ook om simboliese redes: Op die hoogste punt van die Franse Roete kry jy die Cruz de Ferro, waar pelgrims volgens tradisie iets uit hul rugsak laat as simbool van die probleme in hul lewe wat hulle agterlaat.
En hier, tussen die skulpe, klippe en stewels, kry ons die kaartjie van Diana Page van Knysna en ’n lint met Suid-Afrikaanse vlaggies.
Daarna het ek die groep bietjie verloor. Die bospaaie het lastige bulte ingesluit en ek kon nie byhou nie. Ek moes ook in ’n stadium stop om ’n stywe bobeenspier met Arnigel by te kom. By ’n kruising wag Alex vir my.
Ons stap gesels-gesels vir omtrent twee kilometer, terwyl hy vriendelik ’n groepie kleuters in Galisies groet wat saam met hul juffrou op ’n uitstappie is. Die kleuters groet my met “buen Camino!”
Om ’n draai in die pad beduie Alex in die rigting van ’n versteekte winkel, waar hy sê ek vinnig by ’n badkamer kan indraf. Maar voordat ek weer my rugsak op my rug sit, kom die res van die groep daar aan. Hulle het weer by ’n kerkie vir Alex gestaan en wag en nou lafenis kom soek. Ons saal af vir ’n eet- en ’n drinkdingetjie.
Van hier af is dit nog net sowat ’n uur se stap, en Alex neem ons weer weg van die vernaamste Camino-roete op een wat al langs die rivier af kronkel. Jy loop kilometers ver in die bos. Die roete is nie gemerk nie, jy volg die loop van die rivier. Maar op van die brûe is die Camino-wapen uitgekerf sodat jy seker kan wees jy is op die regte plek.
Alex het beduie dat ons mekaar op die rand van Pontevedra moet kry sodat hy ons veilig tot by die hotel kan kry. Ons sit eers en drink ’n biertjie – daar is geen haas van hier af nie – voordat ons begin voetslaan na die ou deel van die stad.
Pontevedra is inderdaad pragtig! Met 80 000 inwoners is die stad net-net groter as Wellington in die Boland, maar groot dele van die stad is sedert 1999 vir motorvervoer gesluit, wat dit heerlik maak vir stappers. Die naam beteken “ou brug”, maar ons gaan eers die volgende oggend dié brug sien op ons pad uit die stad uit.
Pontevedra speel al eeue lank ’n belangrike rol op die Camino de Santiago, en het die bynaam “die goeie stad” gekry. Alex neem ons eerste na die pelgrimskatedraal in die ou deel van die stad sodat ons pelgrimspaspoorte gestempel kan word. Die katedraal is in die vorm van ’n skulp gebou en pragtig. Hoog bo die ingang staan ’n pelgrim en waghou.
Hotel Ruas is ’n katspoegie van daar af en gerieflik. Ek kry weer ’n dakkamer, waar ek stort en rus voordat ek die stad invaar. Op die plein langs die hotel sit Marietjie en Amelia reeds met eetgoed, wat hulle vrygewig deel.
Later loop ons vir Pieter raak, wat vir ons ’n paar mooi plekke in die stad gaan wys. In die koopstraat loop ons vir Linda en Michelle raak. Pontevedra het die lekkerste atmosfeer!
Die Spanjaarde is nie haastig om by die aandetetafel uit te kom nie en vanaand eet die groep eers om 20:30. Ek het die fout gemaak om die seer bobeenspier met ’n spierverslapper te probeer paai, maar dit beteken net dat ek slegte geselskap om die aandetetafel is.
Ons sit heerlik en kuier terwyl die restaurant yslike borde met slaai of sop vir hoofgereg aandra, en vis of varkvleis vir hoofgereg. Alex fluister nog aan die einde van die ete iets in die kelner se oor, wat dan met bottels likeur op ’n skinkbord aankom. Ons kry ’n loopdop op die huis.
Ek sukkel om my oë oop te hou (kom ons blameer maar die spierverslappers, en nie die 18 km se loop nie) en moet kort voor 11 myself van die tafel verskoon.
Ek gaan bed toe, salig onbewus van alles waarmee die res van die groep hulleself die nag besig hou. Maar daaroor meer in die volgende blog, “die Slag van Pontevedra”.
Weg se reis word moontlik gemaak deur Hi-Tec, Arnigel en caminoways.com.
Caminoways.com reël fiets- en staptoere op verskeie roetes op die Camino de Santiago. ’n Sesdagreis op die Camino Frances van Sarria na Santiago begin by 525 euro (R8 400) per persoon wat deel (vliegkaartjies uitgesluit). Vir besonderhede of om ’n kwotasie te kry, stuur ’n e-pos na info@caminoways.com of besoek caminoways.com.