
Weg se reis is moontlik gemaak deur Hi-Tec, Arnigel en caminoways.com.
Afstand: 24, 3 km
Tyd op die pad: 6 uur 52 minute
Totale afstand ná 6 dae: 128,1 km
As dit gister moeilik was om jou neus by die deur op Caldes de Reis uit te steek, kos dit vandag elke bietjie innerlike dissipline om uit jou bed op Padron te kom. Gelukkig is dit ons laaste stapdag, en die vooruitsig om voor aandete vanaand op die plein voor die katedraal in Santiago te staan, maak dinge bietjie makliker.
In die voorportaal kry ons weer die ander stapgroep se Brasiliaanse gids wat selfs vandag, in gietende reen, met sy visplakkies gaan stap.
Ons het besluit om vandag effens vroeër op die pad te kom, maar dit sukkel. Ons het reeds meer as 100 km in die afgelope week gestap en die lywe kan dit voel. Dis net Alex en Michelle wat met sambrele opdaag. Ek het gewik en weeg om my poncho uit die rugsak te haal, maar op die ou end volstaan met die reënbaadjie wat Hi-Tec vir my geskenk gegee het.
Ek sien Alta loop met presies dieselfde baadjie. Poncho’s is soos sambrele ... hulle werk net as daar geen wind is nie, en vandag lyk die weer behoorlik stormagtig. Ek trek dus die Hi-Tec-reënbaadjie bo-oor twee ander lae aan en hoop vir die beste. As ek dan nou deurdrenk op die plein in Santiago aankom, kan ek maar môre in my denim rondloop.
Alex het gewaarsku dat die laaste dag 24 km van loutere opdraand is, maar hy het genadiglik oordryf. Die eerste deel van die dag kronkel langs plaaspaaie op die buitewyke van Santiago. Die reën giet onophoudelik. Aanvanklik probeer jy plasse systap, maar later bodder jy nie meer nie. Jy stap sommer deur dit. Selfs in die gietende reën doen die Hi-Tec Ravus Quest hul ding - my voete is die enigste deel aan my wat droog is.
Ná sowat 5 km loop die Camino reg verby ’n katedraal en Alex beduie dat ons moet ingaan. Vir ’n rukkie sit ons in stilte in die katedraal en begin die betekenis van die oomblik insak. Ons is byna aan die einde van ons reis.
Ons eerste koffiebreuk vir die dag is omtrent by die 7 km-merk. Ons is yskoud en dankbaar oor die koffie en sitkans. Van hier af wys die padborde dat dit nog 10 km is tot in die ou deel van Santiago, maar dis as jy die N550-teerpad volg. Die Camino swaai altyd doelbewus weg van die motorpad en neem jou op die agterpaaie langs.
Die 7 of 8 km voor middagete is die moeilikste van die hele Camino. Die pad is nou werklik alles steil opdraand en die reën toon geen genade nie. Ons is net mooi in ’n nasionale park en op ’n bitsige opdraand toe die hemel oopmaak in ’n wolkbreuk. Dit demp egter geensins die gees nie. Ons lag en gesels en trek selfs elke nou en dan los met ’n lied.
'I'm singing in the rain'
Ons begin vroom met “Strome van seën”, maar eindig kort voor lank by “Kaptein, span die seile”. Ons ken ook net soveel reënliedjies. Elke kilometer wat afgetik word, word raserig gevier en staan ons weer langs die baken vir foto’s. Van tyd tot tyd rek die groep uit, maar die meeste van die tyd bly ons bymekaar vir ons laaste staptog.
Teen die tyd dat ons die middageteplek bereik, is ek al taamlik bakleierig. Gelukkig lyk dit nou of die weer bietjie ooptrek. Ons het nou 6 km oor. Nie tot by Santiago nie, maar tot by die katedraal in die middel van die ou stad. Ons is eintlik lankal reeds in Santiago.
Ek is vir oulaas aangenaam verras oor hoe die Portugese Camino eindig. Op die laaste dag van die Via Francigena in Italië loop jy vir 19 km langs hoofweë en winkels tot by die Vatikaan – waarskynlik die slegste (en gevaarlikste!) stapdag van jou hele lewe.
Die Franse Camino eindig effens beter, maar 12 km voor die einde stap jy by die Santiago-lughawe verby en van daar af deur nywerheidsgebiede. Maar op die Portugese Camino is jy selfs in die laaste 6 km voor die katedraal steeds in parke en woude met kabbelende waterstrome langs jou. Die eerste tekens van stad wat jy kry, is 2,4 km voor die katedraal.
En van daar af gee ons nie eintlik om nie. Die groep is nou soos perde wat stal geruik het, en kort-kort moet ek na voor roep dat hulle die pas net effens markeer. Ek sukkel om by te hou en die hel gaan los wees as daai groep vandag sonder my op die plein aankom!
Die Portugese Camino kom inderdaad vanuit ’n heeltemal ander rigting in Santiago aan. Die laaste 1 km loop deur die ou stad en ons vergaap ons aan die mense wat in straatkafees sit en kuier. Dit gaan binnekort weer óns wees. Net buite die plein wag Alex net sodat die hele groep kan inhaal, en dan stap ons saam-saam om die draai en sien ons die plein met die imposante katedraal...
Die oomblik is hier!
Maar oor die katedraal se skouer hang ’n hyskraan soos ’n blomsteel wat geknak het.
Ons neem ’n groepfoto op die plein en gaan neem ons skoene af by die sementblok wat amptelik die einde van die Camino verteenwoordig. Ons ontmoet selfs Suid-Afrikaners op die plein wat ’n paar dae voor ons in Santiago aangekom het.
Terwyl Alex stil-stil verdwyn met ons pelgrimspaspoorte om ons Compostelas (die sertifikaat wat sê jy het die Camino voltooi), te gaan afhaal, stap ons om die plein om die katedraal by die ander ingang in te gaan. Alex het gewaarsku dat die katedraal tans toe is omdat hulle dringende herstelwerk doen voor die heilige jaar (in 2021)*, maar die impak daarvan verstom my.
Die hyskraan word genoodsaak weens die skade aan die dak, maar binne-in lyk dit soos ’n bouterrein. Alles is toe onder dik plastiek en versteek agter yslike stellasies. Jy voel ’n klein bietjie afgehaal.
Die gebroke katedraal
Alex het ’n positiewe “spin” daarop probeer sit deur vir ons te sê min pelgrims kry die kans om die katedraal so te sien. Maar vir my is dit ’n ekstra herinnering dat die Camino by uitstek gaan oor die reis, en nie oor die bestemming nie. Pieter sê later in ons whatsapp-groepie dat dit vir hom ook ’n herinnering was dat ons almal “onder konstruksie is”, en dat dit hom aan die Japannese konsep van “kintsugi” herinner het.
Kintsugi is ’n Japannese kunsvorm waar gebreekte keramiek nie met onsigbare gom herstel word nie, maar met lak wat met goud of silwer gemeng is en duidelike lasplekke vorm. Die herstelde kunswerk is dus nie ’n gelapte weergawe van die oorspronklike nie, maar ’n nuwe kunswerk. Die keramiek steek nie sy gebrokenheid weg nie, sy herstel word deel van sy storie. Dis nogals gepas vir die Camino, waar gebroke pelgrims elke dag by ’n onvolmaakte katedraal aankom. Dis nie perfekte mense wat voor ’n prentjiemooi konstruksie eindig nie. Maar ons stukkendheid word deel van ons storie.
‘Liewe Jakobus, terwyl ek nou hier is...’
Die katedraal is slegs oop vir pelgrims sodat hulle die pelgrimstradisies kan uitvoer. Jy kan nog die beeld van Jakobus ’n drukkie gee en iets in sy oor fluister, en sy graf onder die katedraal besoek. Ek neem foto’s van die groep wat die een na die ander agter Jakobus verskyn en iets in sy oor fluister. Toe dit my beurt is, vra ek vir reën in die Noord-Kaap.
*In ’n jaar waarop Jakobusdag (25 Julie) op ’n Sondag val, vier die Katolieke ’n heilige jaar of jubeljaar. Baie Katolieke stap die Camino nét in ’n heilige jaar. Waar 250 000 pelgrims gewoonlik per jaar die Camino stap, maak die Camino-organisasies reg vir 500 000 tot 600 000 pelgrims in 2021. Die Camino skep vir so ’n jaar ekstra infrastruktuur om die massas te hanteer.
Breinspoed: 4,8 km per uur
Ons hotel is net sowat 900 meter van die katedraal af, maar as jy sopnat is, is dit eindeloos. By aandete moet ons afskeid neem van Alex, wat ook ons compostelas aan ons oorhandig. Ons bly nog ’n dag oor in Santiago, en een dag in Porto, maar Alex is op pad terug huis toe in Vigo. Ons was aan die einde van ons eerste dag in Vigo en dit voel soos ’n ewigheid gelede, maar volgens Alex is dit ’n 5 euro-rit ver. Ek giggel liggies. Dit ent wat ons in 5 dae gestap het, kan jy vir 5 euro in ’n bus aflê. Voor aandete rus ek vir ’n uur in my kamer, dankbaar dat ek weer hierdie geleentheid gehad het.
Ek dink terug aan die groeplid wat my op die lughawe gevra het hoekom ek herhaaldelik terugkom Camino toe.
“I suspect that the mind, like the feet, works at about three miles an hour. If this is so, then modern life is moving faster than the speed of thought, or thoughtfulness,” skryf Rebecca Solnit in Wanderlust. Een maal per jaar gee ek my kop en voete bloot ’n kans om met die res van my lyf op te vang. Vir daardie 5 of 6 dae wat jy op die pad is, is jou behoeftes weer fisies: jou bobeenspier pyn, jou voete is seer, jy is honger of dors, jy knyp ’n nood! Jy’s besorg oor die reën wat val, nie oor jou loopbaan of finansies nie. Dis daardie terugkeer na eenvoud wat jou battery herlaai.
Die teoloog Soren Kierkegaard het gesê: “Of all ridiculous things, the most ridiculous seems to me, to be busy — to be a man who is brisk about his food and his work.”
Mag daar vir jou ook nog baie lawwe praatjies saam met vriende, ’n vals gesingery, bier en broodjies ... én oomblikke van salige stilte op die agterpaaie van die wêreld voorlê.
Weg se reis word moontlik gemaak deur Hi-Tec, Arnigel en caminoways.com.
Caminoways.com reël fiets- en staptoere op verskeie roetes op die Camino de Santiago. ’n Sesdagreis op die Camino Frances van Sarria na Santiago begin by 525 euro (R8 400) per persoon wat deel (vliegkaartjies uitgesluit). Vir besonderhede of om ’n kwotasie te kry, stuur ’n e-pos na info@caminoways.com of besoek caminoways.com.