Delport Botma se breë glimlag is gereeld te sien op sy Instagramfoto’s (@db_born_wild): Op een laat hy ’n geelslang vry, op ’n ander sit hy saam met sy jack russell op die flap van ’n bakkie en dikwels sit hy agter die stokke van ’n helikopter, iewers in Afrika. Hy besoek plekke waar bittermin mense ooit kom, soos die Zambesidelta in Mosambiek, maar lewe ook na aan die natuur by sy huis buite Thabazimbi, Limpopo. Dís waar ek hom vaspen tydens inperking, toe hy noodgedwonge tuis moes bly.
“Die pandemie het my planne deurmekaargekrap,” erken Delport, “ek moes eintlik nou in Kenia gewees het. Gewoonlik is ek meer weg van die huis af as wat ek tuis is. Dit voel soms asof ek nie ’n tuisdorp het nie!”
Delport het grootgeword op ’n ander Limpopodorp, Vaalwater in die Waterberg, maar woon sedert 2015 op Thabazimbi.