André, ’n meganiese ontwerper, sê hy het sy aanvanklike ontwerp vernuwe tot hy reg was vir die vertoonlokaal. Die uitleg is soos dié van ’n konvensionele boswa met die kombuis aan die linkerkant, die neuskas op die A-raam en ’n daktent wat op die romp pas, maar hy het ’n nuwigheid of twee ingebou. Die Buffel kom met ’n gasstoof én ’n induksieplaat. As die gasstoof byvoorbeeld nie die mas opkom in die wind nie, kan jy oorslaan na die 220 V-induksieplaat.
Die romp is van vlekvrye staal en die onderstel van gegalvaniseerde staal. Die standaardwa kom met ’n vaste as en bladvere, maar jy kan ook onafhanklike vering met krulvere kies.
Een van die groot knelpunte in boswaens is pakruimte binne die romp, maar hier kry die Buffel ’n regmerkie. Hy het ’n laai wat by die agterdeur uittrek – hierin pas drie ammokiste langs mekaar, maar jy kan hulle ook drie-drie bo-op mekaar stapel.