My vriend Guts Swanepoel se huurhuis in Kasane is gebou op die oewer van die Choberivier. Wanneer ek in die noorde van Botswana toer, is dié huis my gunstelingplek om te bly. Dis vir my utopie: Hier is ek sielsgelukkig soos op min ander plekke, met vrede op alle fronte, en rustigheid in my binneste.
Ek sit nou op die stoep, met die water skaars vyf meter weg. Die rivier vloei vinnig en is besig om te styg. Soms kom skuimbolle stroomaf – hier’s stroomversnellings naby – en ander kere seil groot gras-, riet- of papiruseilande soos wiegende plantskepe verby. Die stroom skeur dié eilandjies soms los van hulle ankerplek, en dan gaan hulle op toer na wie weet waar.
Soms sien jy hoe ’n voëltjie, ’n kwikkie of byvreter dalk, die eiland van agter invlieg, en daarop gaan sit om te rus, koning van sy eie drywende republiekie.