Die plaas is op die Carnarvonpad (die R63). Van Loxton af is dit teerpad tot by die afdraai na die plaas, maar dan vat jy ’n skaflike grondpad wat selfs ’n gewone sedan sal kan baasraak.

Soutpoort, genoem na die Soutpoortrivier wat hierdeur loop, het twee kampe wat ongeveer 200 m uitmekaar uitgelê is tussen die rooi kliprantjies. Elkeen het sy eie badkamergebou met ’n stort, wasbak en toilet, met die opwasgeriewe buite.

Teen die een kant van die gebou is ’n sinkafdak met ’n stuk plaveisel onder dit. Elke kamp het sy eie ronde swembadjie en braaiplek en kan twee gesinne maklik huisves, maar jy kan dit ook net vir jouself bespreek. Hier is nie elektrisiteit nie, maar wel selfoonontvangs.

Buiten die skape is hier nie ander diere nie. Jy kan vooraf lamsvleis bestel teen R120/kg, én hier is ys en hout. Jy mag ook jou troeteldier saambring. Prys R400 p.n. per staanplek vir tot 4 mense; daarna R90 p.p.p.n. Ingesluit by die prys is een voertuig en een woonwa – daarna kos dit R200 vir elke ekstra voertuig of woonwa. 

Kontak 072 623 7926, thirionm@gmail.com, facebook.com/soutpoort

GPS S31.350491 E22.292123

Jammer, ons fout

Weens ’n misverstand het ons die verkeerde inligting verskaf oor die 4x4-roete tussen Gansbaai en L’Agulhas (“Die Klein Kaapse Doodsakker”, Desember 2020-Januarie 2021). Let wel dat ’n toegangstarief inderdaad betaalbaar is vir die Uilkraalsmond-natuurreservaat. Die reservaat het slegs een hek waar jy in- en uitry. Voertuie word geensins op die strand toegelaat nie en hengel ook nie snags nie. Toegang tot Quoinpunt is streng verbode, en Die Dam-oord is onder munisipale bestuur en nié deel van die Agulhas- nasionale park nie.

Ewiks kry afstandbeheer

Die woonwaskuiwervervaardiger Ewiks het pas ’n afstandbeheer bekend gestel wat op al sy klaargemonteerde eenhede pas – of jou skuiwer dus gister geïnstalleer is of 10 jaar gelede, hy sal ewe goed werk, sê Kyle Warburg van Ewik Enterprises.

Die toestel en sy ontvanger, wat in die woonwa pas, word as ’n selfdoenstel verkoop. Die konvensionele skuiwer het ’n koord van 7 m, terwyl die afstandbeheer tot op 60 m werk. Die afstandbeheer het boonop ’n unieke kode sodat jy nie per ongeluk die buurman se woonwa laat wegtrek nie.

Kyle sê klante kan die nuwe stelsel by hulle bestaande een voeg sonder om die aanvanklike koord te ontkoppel. Jy het dus ’n keuse tussen die koord en die afstandbeheer. Indien jy jou afstandbeheer verloor, is dit apart te koop. Prys R1 400 (ingesluit hierby is BTW en aflewering). 

Kontak 084 330 0606 of 082 487 4950, ewiks.co.za, sales@ewiks.co.za