
Hulle lêplek blyk naby sy huis op die landgoed te wees, maar dis die eerste keer dat hy die hele gesin sien: mamma, pappa, en die drie kleintjies.
Silwervosse kom in Suid-Afrika voor, maar hierdie oulike diertjies is ontsettend ontwykend.
“Hulle is lieflik, met groot flapore en bewys hoe plaaslike diere floreer sedert honderde hektaar uitheemse plante en bome tussen 2004 en 2018 van die plaas verwyder is,” sê Eben Olderwagen, die omgewingsbestuurder op Vergelegen.
Die plaas is redelik groot (3000 ha), maar amper een helfte daarvan is in 2018 as ’n private natuurreservaat verklaar (1900 ha). Hierdie beskutting het ook ander diere na die gebied gelok: Kaapse luiperds, rooikatte, ratels, vaalribbokke en muskeljaatkatte is deesdae gereelde besoekers.
Daarby het Vergelegen se nguni-stoetery dié jaar sy eerste tweeling verwelkom! Wanneer hierdie beeste ’n tweeling kry, kies die ma gewoonlik die sterker kalf en verwerp die ander een.
“Dit was inderdaad die geval toe ons ons eerste tweeling verwelkom het,” sê Olderwagen. “Ons het die swakker kalf Nina genoem en haar met die hand grootgemaak totdat ons haar aan een van die kleiner troppe op die landgoed kon bekend stel. Sy gaan nou van krag tot krag.”
Op die oomblik is 146 nguni-koeie uit ’n trop van 340 beeste swanger en sal tussen Junie en September vanjaar kalf.
Vergelegen is tans toe weens die inperking, maar volg hulle op Instagram (@vergelegen_wine_estate) om uit te vind wanneer die landgoed oopmaak.