Wyfies groei tot 6 m lank en kan meer as 65 kg weeg! Hulle word dikwels verwar met die Afrika-luislang (Python sebae), maar ’n mens vind hulle slegs verder noord in Afrika. 

Ten spyte van al die bygelowe rondom hulle grootte is dit selde dat ’n Suider-Afrikaanse luislang ’n mens sal byt. Sterftes is feitlik ongehoord – net 1 elke 100 jaar.

Hierdie wurgslang is ’n hinderlaagjagter en sal sy prooi afwag, aanval en dan met 84 vlymskerp tande byt. Die slang sal dan sy lyf om die prooi draai.

Luislange verwurg nie hulle prooi nie, maar plaas eerder druk op die bors sodat die dier se hart nie normaal kan klop nie.

In teenstelling met die meeste ander slange, beskerm die luislangwyfies hulle eiers. Wyfies skei vroeg in die winter ’n feromoon af om mannetjies te lok en maak gebruik van verlate blyplekke soos erdvarkgate om tussen 40 en 80 eiers op ’n slag te lê.

Daar is selfs gevalle aangeteken van meer as 100 eiers wat op een slag gelê is, elkeen met ’n sagte dop en so groot soos ’n tennisbal.

Die wyfie sal tot 38% van haar liggaamsmassa verloor wanneer sy eiers lê, en dit daarna vir die volgende drie maande beskerm sonder dat sy eet. In die broeiseisoen word sy donker van kleur, wat haar help om hitte te absorbeer wat sy dan met haar eiers deel.

Reptiele oorverhit en sterf teen sowat 42 °C; dus sny luislange dit fyn aangesien hulle ’n liggaamshitte van 40 °C opbou voordat hulle na hulle nes terugkeer.

Ná drie maande broei die eiers uit. Die jong slange beweeg elke dag na die oppervlak, maar duik vinnig terug as hulle vir iets skrik. Hulle bly twee weke by hulle ma voordat hulle in verskillende rigtings koers kies om hulle lewe te begin.

Hoewel hulle in al ons provinsies beskerm word, is die Suider-Afrikaanse luislang nie ’n bedreigde spesie nie, en word dit as die minste bedreig op die Rooidatalys aangedui.

Gaan na africansnakebiteinstitute.com vir meer inligting.