
Ek het dié waentjie ’n klompie jare terug by ’n oom op Colesberg gekoop nadat sy seun my vertel het sy pa wil van die ding ontslae raak. Die oom het al aangestap in jare en kon die waentjie nie regtig meer gebruik nie. Die oom het die wa self gebou.
Ek dink dis ’n gewone sleepwa en ’n bakkiekappie wat hy gekombineer het om die bed-op-wiele te skep. Ek het gaan kyk en gesien dis nét wat ek nodig het vir my visvanguitstappies. Ek geniet dit vreeslik om oor naweke langs die viswaters te gaan kamp en die wa het alles wat ek nodig het om heel gemaklik oor die weg te kom.
Binne is genoeg ruimte vir ’n driekwartbedmatras. Ek het dié op twee houtpalette gesit sodat ek darem nie op die grond hoef te lê nie. Teen die dak is twee waaiertjies om die lug te sirkuleer en die binnekant koel te hou.
Hy het ook ’n lig teen die dak en ’n kragprop wat met 220 V werk. Ek kan dus my koffiewater sommer in die wa kook. Bo die bed is rakke vir my sakke, klere en ander los goedjies, en dis lekker dat hy die dakrak het vir die res van my bagasie plus visstokke en hengelgerei.
Ek het die wa eers met my Opel Kadette gesleep, maar dié het ek verkoop en sleep hom nou met my Ford Bantam-bakkie.
Ek is doodtevrede met die waentjie, en hy laat omtrent die koppe draai wanneer ek die kampterrein binnery. Mense kom gewoonlik oorgestap en vra om hom van nader te bekyk. ’n Mens sien nie aldag só ’n oulike sleepsel nie.