Ons het by die dierekenner Riaan Haasbroek gaan aanklop vir ’n verduideliking oor hoe jy kan keer dat jy volgende keer op die langpad dalk ’n dier raakry.

Olifante

“Olifante is die mees onvoorspelbare diere in ’n pad. Hulle voel nie geïntimideer deur ’n voertuig nie en as ’n olifantbul in die pad wil loop, sal hy. Hou jou afstand en laat hulle in vrede stap, maar as hy na jou kant toe beweeg of op jou afkom, kom uit sy pad uit.”

Koedoes

“Koedoes is ’n algemene probleem, veral laatmiddag, snags en vroegoggend. Hulle skrik vir lig en is geneig om oor die pad te spring, selfs in die kant van jou voertuig in. Blaas jou toeter sodra jy hulle sien, verminder spoed en ry versigtig verby. ’n Koedoe en ’n lig is soos ’n mot en ’n vlam. Probeer dus jou ligte afskakel as jy kan, of hou net jou parkeerligte aan, en ry stadig verby.”

Donkies

“Hulle lê, slaap en bly sommer in die pad. Jy kan vir hulle ook toeter blaas, maar pasop – donkies staan ook en slaap. As jy te naby hulle is en dan toeter blaas, spaander hulle in enige rigting, dalk joune. Donkies gee bitter min aandag aan voertuie. Die beste is dus om ’n lawaai te maak sodat hulle weet jy’s daar en dan stadig om hulle te probeer ry.”

Beeste

“Beeste wei veral bedags naby aan paaie of drink water in en langs die pad. ’n Toeter se klank kry hulle gewoonlik uit die pad, maar wees versigtig: Hulle verander ook gou van rigting agter die trop aan. Beeste is egter baie traag om op te staan as hulle eers lê. Moet dus nie aanneem hulle gaan loop as jy al van ver af toeter blaas nie. Wees veral versigtig vir beeste as jy in die nag ry. Hulle donker velle teen ’n donker horison is uiters moeilik om te sien.” 

Boerbokke

“Hulle boer gereeld op die paaie, maar hang nie rond as jy op hulle afkom nie. ’n Lawaai laat hulle gou verkas. Wees net op jou hoede – hulle is rats en al lyk dit asof hulle een kant toe mik, skiet hulle dalk in die teenoorgestelde rigting.”

Jakkalse en uile

“Dié diere sit dikwels in die pad en vreet tot op nommer 99 aan ’n dooie dier. Ry stadig en gee hulle kans om pad te gee. Uile sit ook dikwels langs die pad op drade en vlieg dan horisontaal oor die pad, waar jy hulle kan tref as jy te vinnig ry.” 

Hase

“Hase bly in die pad hardloop. Ek moes al vir 2km agter een ry! Onthou, diere is kleurblind. Jou voertuigligte maak alles spierwit vir hulle en verwar hulle erg. As jy kan, hou stil, sit jou ligte af en wag ’n oomblik. As jy hulle weer aansit, het daai haas gewoonlik in die veld verdwyn.”

Riaan sê:
“Dis nie altyd nodig om hard te rem of jou voertuig rond te pluk nie. Deur net jou voet van die versneller af te haal, gee jy dikwels die diere genoeg kans om uit jou pad te kom.”
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook