
Wanneer “kwalifiseer” ’n olifant?
Die diere word in twee fases geïdentifiseer: eers as moontlike slagtandolifante wanneer die ivoor tussen 1 m en 1,5 m van die liplyn af uitsteek. Ons hou hulle dan dop om te kyk of die ivoor die potensiaal het om te groei. As dit gebeur en die ivoor meer as 1,5 m uitsteek, word die dier ’n slagtandolifant genoem en gedoop.
Die bekende Manjifieke Sewe was almal slagtandolifante.
Waar kom die projek vandaan?
Die projek is in 2003 amptelik begin en sedertdien word ’n hele paar olifante met groot slagtande gemonitor.
Hulle word gedoop en word aan die publiek bekend gestel. Die diere kry gewoonlik ’n naam wat te doen het met die gebied waarin hulle voorkom óf een of ander fisieke kenmerk.
Ons wil hierdie groot diere se bewegings dophou met die hulp van besoekers aan die wildtuin en só inligting insamel oor hulle bewegings en tot waar elke olifant se gebied strek.
Gaan kyk na die tande
Die tande van ses van die Manjifieke Sewe – Dzombo, Kambaku, Mafunyane, Ndlulamithi, Shawu en Shingwedzi – word in die Olifantsaal by die Letaba-ruskamp ( 013 735 6664) uitgestal.
Kry
nog inligting oor die nuwe geslag slagtandolifante by
sanparks.org/parks/kruger/elephants/default.php.
Jy kan help.
Stuur foto’s of video’s aan die databasis: Stuur dit na tuskers@sanparks.org saam met inligting van waar in die wildtuin jy die olifant gesien het. As jy nie seker is of die olifant wat jy afgeneem het, wel as slagtandolifant kwalifiseer nie, stuur die foto na kirsty.redman@sanparks.org vir uitkenning.
- Hy kom in die noorde van die wildtuin voor.
- Daar is ’n gaatjie so groot soos ’n 10c-stuk op sy regteroor.
- Boaan sy regteroor is twee vlak U-vormige kepies.
- Sy regtertand is meer reguit en langer as die linkereen wat geboë is en dus korter lyk.
- Vir die wat kan fyn kyk: Ndlovane het baie min sterthare!