’n Wonderlike mitologieverhaal, wat uit 500 v.C. dateer, verbind Corvus met twee nabygeleë konstellasies, Crater (die beker) en Hydra (die waterslang).
Die storie lui dat Apollo vir Corvus met die beker gestuur het om te gaan water haal by ’n fontein. Daar gekom, sien hy ’n vyeboom oortrek van vye wat nog net-net te groen is om te eet. Dit laat hom vir ’n paar dae vertoef totdat die vye ryp is waarna hy hom knuppeldik eet.
Hy besef skielik dat Apollo teen dié tyd al smoorkwaad sal wees en die kraai kyk rond vir ’n alibi. Hy sien die waterslang wat hy toe opraap en saam met die beker water terugvlieg. By Apollo aangekom, beskuldig hy die slang en sê dié het hom verhinder om by die water uit te kom.