Terwyl Venus om die Son wentel, sal dit oor die volgende paar maande gaandeweg hoër bo die horison opskuif en teen Augustus die maksimumhoogte (en maksimum helderheid) bereik. Van September af gaan dit vinnig begin afbeweeg soos dit tussen ons en die Son deurbeweeg, om teen laat Oktober in die gloed van die Son te verdwyn.
Stel solank ’n wekker op jou selfoon om jou te herinner om op 17 en 18 April, sowat ’n halfuur ná sononder (sien die tye onder), na die westelike horison te kyk. Op 17 April, net een dag ná nuwemaan, is die sekelmaantjie nog net ’n dun strepie en dus baie moeilik om te sien.
Helder Venus gaan egter sy posisie verklap! Die sekelmaantjie sit dan slegs 5 grade (binne ’n verkykerveld) links van Venus.