In die middel 1800’s het boere uit die distrik elke jaar hulle waens gelaai en langs die Palmiet- en Kleinmondstrandmeer kom uitspan.

Die enigste permanente inwoners was die handjievol vissermanne en hulle gesinne wat gewoon het waar die hawe vandag is.

Die behoefte aan ’n hotel het ontstaan namate dié mooi seeplek al gewilder geword het. In 1939 het ’n mnr. P.J. Delport – onder die mense van Kleinmond bekend as “Ouman” Delport – die Sandown-hotel gebou.

‘Kleinmond se Storie’ deur Jean du Toit

Dit was skaars 50 m van Kleinmond se hoofstrand af naby die riviermonding. Dié dubbelverdieping met sy 23 kamers het sommer gou ’n baken en die kern van Kleinmond se vakansievieringe geword.

In haar boek Kleinmond se storie skryf Jean du Toit dat kommersieel vervaardigde bakstene toe nog skaars was. Die Sandown se stene is daarom op ’n nabye plaas, Vaalvlei, gevuur en die sement is gemaak van gruis uit ’n groef net bo die Heuningklip-rotsformasie oos van die dorp.

Foto: Kyra Tarr

Een van die hoogtepunte op die Sandown se kalender was die Nuwejaarspartytjie wat in ’n losstaande gebou op die perseel gehou is.

Dit was ’n groot geleentheid en ’n orkes het uit Hawston gekom. Du Toit skryf hoe die vloerplanke naderhand só deurgedans was dat die hout plek-plek vervang moes word.

Ouman Delport en sy suster, Blanche, het die hotel slegs vyf jaar lank bestuur voordat hulle dit aan ene John Pitt verkoop het.

Daarna het dit aan verskeie eienaars behoort en is later die Beach House-hotel genoem. Die plaaslike inwoners het dit egter steeds die Sandown genoem.

Dié klein hotel so na aan die see was geliefd; die soort plek waar gesinne met sandvoete tuis gevoel het.

Die Sandown se verhaal neem egter in 2006 ’n tragiese wending: ’n Kortsluiting in een van die boonste kamers het tot vlamme gelei, en byna die hele hotel afgebrand.

Gelukkig is niemand beseer nie, maar die skade het sowat R12 miljoen beloop en die klein onderneming kon nooit daarvan herstel nie.

Nou, 15 jaar later, lê daar steeds net ’n leë plot bo Kleinmond se swemstrand. Gerugte doen die ronde dat daar weer ’n hotel gebou gaan word, maar die munisipaliteit kan in hierdie stadium niks bevestig nie.

Tot tyd en wyl leef die Sandown (en sy legendariese partytjies!) steeds voort in Kleinmond se geheue.

Bronne: Kleinmond se storie deur Jean du Toit; iol.co.za; kleinmondselfcatering.co.za; thevillagenews.co.za

ONS SOEK JOU KIEKIES. Het jy ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na kyra.tarr@media24.com