Suid-Afrikaners sal nie sommer van fietswedrenne praat en nié die Cape Town-fietstoer noem nie. Dié individuele resies word gereken as een van die taaiste eendagfietswedrenne ter wêreld.
Hierdie kuitkouer het begin as deel van ’n plan om ’n uitdagende fietsresies aan te bied wat die aandag sou vestig op Kapenaars se behoefte aan veilige fietsbane.
Die Kaapse dagblad Cape Argus het ingestem om dit te borg, en op 28 Oktober 1978 het 525 ryers buite die Kasteel in Strandstraat aangetree vir die eerste Argus-fietstoer.