Minkie Jonker, my skoonma, se stories oor haar oupa “grosspapa” Johannes Krapohl het haar al jare lank geboei. Dié se oppasser het hom glo as klein seuntjie deur die Oranjerivier geabba toe sy sendelinggesin uit Namibië na Suid-Afrika gevlug het. 

Ná Minkie se dood het ek bokse ou familiefoto’s geërf, onder meer dié een (die “Toe”-foto) wat in 1921 geneem is. Hier staan Johannes se vrou, Johanna, hulle dogter Elfrida en ’n vriendin voor hulle huis op hulle plaas, Abbasas, naby Concordia in die Noord-Kaap. “Abbasas” beteken “deurdra” in Nama. Ná Minkie se dood het ek bokse ou familiefoto’s geërf, onder meer dié een wat in 1921 geneem is. Hier staan Johannes se vrou, Johanna, hulle dogter Elfrida en ’n vriendin voor hulle huis op hulle plaas, Abbasas, naby Concordia in die Noord-Kaap. “Abbasas” beteken “deurdra” in Nama.

Ons het die Namakwa-4x4-ekoroete in dié omgewing gaan ry in die hoop om meer oor die Krapohls te leer. Die kaart van die roete verwys na die “Abbasas-plaashuis,” maar ons het nie verwag om veel meer as ’n murasie te sien nie. Toe ons daar kom, kon ek my oë nie glo nie.

“Daar is die huis! Kyk, daar is die pilare! Daar staan grosspapa se huis!” het ek geroep. Ons was verstom om te sien die huis is nog in ’n goeie toestand, met Abraham en Martha Cloete wat al 15 jaar daar woon. Ons het gevra of ons ’n foto mag neem en het die 1921-foto nageboots, met ’n bakkie in die plek van die perdekar.

Foto: Annami Jonker
Op die “Nou”-foto staan agter van links: Annami se swaer, Danie de Wet, haar man, Andries en hulle dogter, Rachel. Annami sit voor. Foto: Annami Jonker

“Grosspapa” Johannes was ’n interessante karakter. Hy het in sy leeftyd as onderwyser,landmeter, algemene handelaar, boer en veespekuleerdergewerk.

As staatslandmeter in Namakwaland het hy onder meer die ou Gemsbokpark (deesdae die Kgalagadi-oorgrenspark) opgemeet. Hy het twee eilande in die Oranjerivier, stroomop van Abbasas, na hom en sy vrou genoem – Krapohl- en Marten-eiland. Hy het ook plante en diere vir wetenskaplikes versamel. ’n Plantkundige het selfs ’n plant wat net in dié gebied voorkom, die Aloe Krapohliana, na Johannes genoem!

Die Krapohls het tot in 1932 in dié huis gebly toe Johanna oorlede is en Johannes by hulle dogter, Elfrida, en haar man in Middelburg gaan woon het. Hy is in 1949 oorlede.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #145 (November 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.