Dié plaas het eers aan Jan Cornelisz (ook bekend as Jan Bombam) behoort en is in 1692 deur Hans Jurgen Grimpe gekoop. Toe Grimpe ’n paar jaar later oorlede is, het Adam Tas met sy weduwee, Elisabeth van Brakel, getrou en sodoende ook die grond bekom.
Dit was ’n paar jaar nadat Willem Adriaan van der Stel die goewerneurskap by sy pa, Simon, oorgeneem het – ’n magsposisie wat hy gou misbruik het. Die hoër amptenare van die V.O.C. het almal plase besit en baantjies vir boeties was aan die orde van die dag: Teen 1705 het ’n derde van al die plase in dié nuwe “kolonie” aan 20 amptenare behoort – hulle kon wyn, groente, vleis en graan op groter skaal as die Vryburgers verbou.
Die amptenare het die Vryburgers se inkomste toenemend gewurg deur die Kompanjie-afsetpunt te onderskep. Van der Stel het sy hand finaal oorspeel toe hy die vleis- en wynpagte van Vryburgers (onder wie Adam Tas se oom Henning) weggevat en dié kontrakte aan sy vriende toegeken het. Tas (wel ter tale en “de bekwaamste ter penne”) het namens die Vryburgers ’n klagstaat opgestel. Dit is deur 63 Vryburgers onderteken en na die Here Sewentien in Amsterdam gestuur.