Deel

Toe & Nou: Swakopmund se stasiegebou

akkreditasie
Foto: Nasionale Argief
Foto: Nasionale Argief
Die trein hou lankal nie meer hier stil nie, maar die swierige Swakopmund-stasiegebou is meer as honderd jaar later nog steeds ’n plek waar reisigers bymekaarkom.

Die stoep aan die voorkant is toegebou en daar is nie meer ’n horlosie in die toring nie, maar verder het Swakop se ou stasiegebou in meer as ’n eeu omtrent niks verander nie.

Foto: Toast Coetzer

Teen die einde van die negentiende eeu het Walvisbaai reeds aan die Britte behoort, en daarom het die Duitsers Swakopmund in 1892 as hawe vir Duits-Suidwes-Afrika gekies.

Alles wat van Duitsland af na dié kolonie ingevoer is, het by Swakop geland. Goedere is dan met ossewaens van die hawedorp na Windhoek geneem – ’n tog van sowat 380 km, wat tot drie weke kon neem. Só kon dit nie aangaan nie, en die Duitsers het besluit om ’n spoorlyn van Swakop na Windhoek aan te lê.

Werk aan die spoorlyn het in 1897 begin, en ten spyte van die woestynhitte en ’n tekort aan water is die spoorlyn in 1902 voltooi. Intussen het werk aan ’n spoorwegstasie in 1900 begin, en dit is in 1901 voltooi. Terloops, Wilhelm Sander, wat later Windhoek se drie kastele – Heinitzburg, Sanderburg en Schwerinsburg – sou ontwerp, was verantwoordelik vir die toring. 

In 1972 is die stasiegebou tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar, en dit is sedert 1994 ’n viersterhotel met 90 kamers. Die voorportaal se eertydse sementvloer is met teëls en matte vervang, en waar eers ’n wagkamer was, is nou ’n geskenkwinkel. ’n Deel van die platform het ook behoue gebly, asook die oorspronklike deure en vensters – ’n pluimpie vir Duitse vakmanskap!                                          

Bronne:The First 100 Years of State Railways in Namibia deur Brenda Bravenboer en Walter Rusch; Gondwana Collection Namibia – Stamps and Stories, verskeie skrywers; Gedenk-uitgawe van Die Republikein ter viering van Swakopmund se 120ste bestaansjaar

ONS SOEK JOU KIEKIES
Het jy ou swart-wit foto’s wat die stories van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na kyra.tarr@media24.com
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook.