Aan die einde van 1962 het ek pas klaar gestudeer as meganiese ingenieur aan die Universiteit van Kaapstad. Ek en twee vriende, Jan Kruger en Brian Shanley, het die Desembervakansie die 4 500 myl-tog van die Kaap tot in Kenia aangepak in my ou 1200 VW Kewer. Jan se ouers het sowat 120 myl noord van Nairobi geboer.

Ons het vyf dae lank gery, onder meer verby die Victoriawaterval, oor die Karibadam se wal, deur die Ngorongorokraterpark, en oor die ewenaar. Jan se tweelingbroer, Paul, en hulle jonger broer Jakob het ’n week later Kenia toe gevlieg. Ons het Kersfees saam met hulle gevier en ek, Paul en Jakob het besluit om Kilimandjaro in die nuwe jaar te klim.

Jacques staan op die rand van die krater

Die roete begin by die Kibo Hotel, ’n paar kilometer oos van Arusha. Ons moes daar betaal vir die drie oornaghutte – Bismarck, Peter se Hut en die Kibohut – en ’n gids. Maar ons wou nie onnodig geld uitgee nie en het teen die gids besluit (die voortvarenheid van die jeug!). Verblyf in die hutte het 5 sjielings per persoon gekos (destyds 50 c); dus net R4,50 vir die drie nagte vir ons al drie!

Ons het die eerste nege myl met die Kewer gery. Die tweespoorpaadjie na Bismarck was aanvanklik maklik om te ry, maar soos ons al hoër geklim het, het die 1 200 cc-enjin begin swaarkry weens die hoogte bo seespieël –  Bismarck lê op 10 000 voet. Voor ons die laaste drie myl kon aanpak, moes ek stilhou en die vonkverdeler vorentoe aandraai om genoeg krag uit die enjin te kry. Ons het vroegmiddag aangekom en kon vuurmaak en ’n vleisie braai.

Die aand het ons onrustig geslaap: ’n Mens se liggaam moet eers aanpas by die dun lug.

Paul, Jacques en Jakob by Peter se Hut, aan die begin van die derde stapskof.

Die volgende oggend het ons vroeg opgestaan, ontbyt geëet (pap met suiker) en in die pad geval: Dit was 11 myl tot by die Peter se Hut, op ’n hoogte van 12 300 voet bo seespieël.

Ons het deur die reënwoud gestap en oilskins gedra om droog te bly. Ons kon voel hoe die dunner lug ons energie tap en dit het vier uur se stap tot by die hut geneem. Daar gekom, het ons ’n paar ander klimmers gekry wat reeds die vorige dag aangekom het en by die hut oorgebly het om te akklimatiseer. Aandete was boeliebief, geblikte groente en koffie met baie suiker.

Die tweede dag se skof was 10 myl lank, tot by Kibohut op 15 000 voet. Dit was taai – ons longe het gebrand. Ons het in die namiddag by Kibo aangekom en op ons slaapsakke gelê om te herstel. Ek het sneeu bymekaar gemaak om te smelt vir drinkwater. Ons was nie juis honger nie en het net ’n bietjie blikkieskos geëet.

Jacques se getroue Kewer het hom al die pad van Kaapstad tot by Bismarckhut aan die voet van Kilimandjaro gebring.

Die Kruger-broers kon vlot Swahili praat en het met die gidse van ’n Amerikaanse groep onderhandel dat ons (teen ’n tarief) agter hulle aanstap. Dit was ’n goeie besluit: Hulle ken die terrein en kon ’n goeie pas aangee.

Ons is vroeg bed toe. Teen eenuur die oggend het die gidse ons kom roep. ’n Mens moes vróég begin stap as jy met sonsopkoms op die rand van die krater wou wees. Met ons warm klere, ’n waterbottel in die rugsak en ’n wandelstaf het ons in enkelgelid in die pad geval. Die lug op dié hoogte is skóón, en die sterrelig was genoeg om die een voor jou te sien.

Ná sowat ’n uur kon ons voel dis nie net ’n maklike wandeling nie. Die helling was nou sowat 30º. Ons het 20 kort treë gegee, 10 sekondes gerus en dan weer 20 treë geloop.

Paul en Jakob stap op die “saal” tussen die Mawenzi-en Kibo-krater. Hier was die asems maar min in die dun lug teen meer as 14 000 voet bo seevlak.

Teen vieruur die oggend het ’n rooi skynsel in die ooste begin uitslaan. Met sonsopkoms net voor vyfuur het ons die krater se rand by Gillman’s Point bereik. Ons het op 18 630 voet gestaan en kon meer as 100 myl ver sien – die liggies van dorpies. Daar was ’n paal by die baken en ons het ons name in die boekie in die ysterkissie geskryf.

Ek kon nie glo toe Jakob ’n pakkie sigarette uithaal en een opsteek nie – ek het vir hom gesê: “Jakob, is jy simpel in jou kop? Hier is skaars genoeg suurstof vir ’n vuurhoutjie om te brand en jy rook!” Hy het hom nie aan my gesteur nie.

Die temperatuur was rondom -20 °C. Ek het foto’s geneem met my filmkamera, wat net plek gehad het vir 36 foto’s. My vingers was stram en die beligting was nie reg nie.

Ons het nog ’n myl verder gestap tot op die hoogste punt, op 19 300 voet – destyds die Kaiser Wilhelm Spitze genoem, na die Duitse keiser onder wie se bewind Tanganjika aan die begin van die 20ste eeu was. Dis ’n jaar later ná Kenia se onafhankwording herdoop tot Uhuru – die Swahili-woord vir Vryheid.

Van hier af was die yswande aan die binnekant van die krater asemrowend mooi. Teen sowat agtuur die oggend kon ons sê ons het dit reggekry om op die dak van Afrika te staan!

Vir die stap deur die reënwoud het Jacques heel slim ’n reënjas gedra.

Maar die dag was nog nie verby nie. Die terugtog was aansienlik makliker: Hoe laer jy daal, hoe meer suurstof kon jou longe kry.

Ons het ons kampgoed bymekaar gekry by Kibohut en begin terugstap. Die 11 myl tot by Peter se Hut het gevlieg. Gewoonlik het klimmers weer daar oornag ná die oggend se klim, maar ons het deurgedruk tot by Bismarck – 10 myl verder. Ons het daar aangekom met nog sowat ’n halfuur se sonlig oor, en besluit om deur te druk hotel toe. Die getroue Kewer het gevat en ons was later die aand veilig by die Kibo Hotel. Ons wou nie betaal vir hotelverblyf nie, en het 100 myl verder gery tot op Arusha, waar ons by vriende van die Krugers kon bly.

Toe ons die volgende oggend die spits in die verte sien, het dit gevoel asof ons droom!

Let wel: Een myl is gelyk aan sowat 1,6 km en 1 000 voet is sowat 300 m.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #168 (Oktober 2018) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.