Leser vertel: Tanganjika toe in die jare tagtig

akkreditasie
Uit die argief: Vier vriende het in 1986 besluit dis tyd om te gaan visvang langs die Tanganjikameer, Tanzanië. Rinus van der Sluys van die Paarl en sy drie vriende het gelukkig tussendeur die avontuur wat hulle op dié reis beleef het, darem ’n paar visse uitgetrek.

In 1986 het ek en drie vriende, Willem Blommaert, Christie Mocke en Fritz Smit, langs die Tanganjikameer gaan visvang.

Ons het gevlieg tot in Lusaka en agt padblokkades later in die nag by Ndolebaai aan die suidpunt van die meer aangekom. In daardie stadium was vier wit jong Suid Afrikaners nie algemene toeriste in die geweste nie, en is ons by elke padblokkade met redelike agterdog bejeën. Ons het ook gebly in Nkambabaai en Kasababaai en tien dae lank groot Nylbaars en ’n soort kurper uitgetrek.

Die meer was ongerep met karige infrastruktuur. Ons het gebly in gastehuise wat verlate maar skoon en netjies was. Ons het ná ons vakansie nie weer kans gesien vir die padblokkades nie en besluit om van Kasababaai af Lusaka toe te vlieg, oor Kasama, Ndola en Kabwe.

Jy kon nie plek bespreek nie en daar was ’n lang ry mense wat die vliegtuig, met net 40 sitplekke, volgemaak het. Ons was gelukkig om met die hulp van ’n plaaslike grootwildjagter voor in die ry ingedruk te word.

Met die opklim word ons só gegroet: “Welcome on board Zambian scare ways, we hope you enjoy your fright”!

Mense en draadhokke met hoenders het in die paadjie gestaan in die propvol vliegtuig. By Kabwe moes ons afklim sodat die vliegtuig brandstof kon kry, en ’n 20 liter-drom met olie in die een enjin – die een kant van die vliegtuig was pikswart soos dié olie gemors het. Die bostaande is ’n kort weergawe van al die avonture wat ons beleef het.

Ek het Zambië al verskeie kere besoek – dis regtig ’n onontdekte juweel van ’n land. 


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #158 (Desember 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.