Ons het ook nie wêreldgehalte akwariums gehad waar ’n mens seediere van nader kon beskou nie.

In November 1995 het dinge verander toe die broers Richard en Geoff Starke se droom bewaarheid word. Die Twee Oseane-akwarium het geopen ná 8 jaar se navorsing en 18 maande se bouwerk op ’n kaal lappie aarde. Dit was toe die grootste akwarium in Afrika (totdat die Ushaka Sea World in 2004 in Durban oopgemaak het).

Die Twee Oseane is oorspronklik deur die Transnet-pensioenfonds en Norwich Life SA befonds, en word nou besit deur V&A Holdings Edms. Bpk. Die begroting vir die bouwerk het daardie jare by R34 miljoen gaan draai – in vergeleke met die ontwikkeling van die I&J Oseaan-uitstalling bínne-in die akwariumgebou wat in 2016, tesame met opknappingswerk aan die haai- en kelpwouduitstallings, R50 miljoen beloop het.

Die akwarium se beginjare was opwindend. ’n Personeellid vertel: “Toe ons nog besig was om visse vir die onderskeie uitstallings bymekaar te maak, het ons agtergekom dat van die visse wat ons in foreldamme by Simonstad se seiljagklub aanhou, stilletjies aan ’t verdwyn is. Ná ’n ondersoek en die aanstelling van ’n permanente sekuriteitswag kon ons uiteindelik vasstel wat aan die gang is: Een van die plaaslike vissermanne het gedink dié bewaartenke is die beste (en maklikste) hengelplek in die omtrek!”

Dele van die oorspronklike akwariumgebou se ontwerp en uitleg is gebaseer op elemente van die Monterey Bay-akwarium in Kalifornië, soos die lewendige kelpwoud (een van slegs ’n handjie vol in die wêreld) en die 10 m lange besigtigingstonnel (in 2016 aangebou) waarlangs besoekers deur die I&J-Oseaan-uitstalling kan stap. Dit is die enigste akwarium in Suid-Afrika met hierdie eienskappe.

Die Twee Oseane-akwarium en sy niewinsgewende vennoot die Two Oceans Aquarium Education Foundation is wêreldleiers in die teel en navorsing van waterskilpaaie. Saam het hulle meer as 600 waterskilpaaie gerehabiliteer en in die see vrygelaat.

Foto: Sophia van Taak

Die akwarium is ’n instelling op Kaapstad se toerismeroete. Elke jaar kom draai bykans ’n halfmiljoen besoekers hier om hulle te verkyk aan die rôe, haaie, seeskilpaaie, palings, visse, pikkewyne en seeperdjies wat die Twee Oseane hulle tuiste noem.

Waar? V&A Waterfront, Kaapstad Kontak aquarium.co.za; 021 418 3823

Oop: Ma.-Vr. van 9.30 vm. tot 6 nm.; So. en Sa. van 9 vm. tot 6 nm.

Kaartjies R200 p.p. (R150 per kind tussen 14 en 17; R95 per kind tussen 4 en 13). Doen navraag oor lidmaatskapkaartjies.

Foto: Jean Tresfon

Ons bedank graag vir Renée Leeuwner van die Twee Oseane-akwarium vir haar hulp met hierdie artikel.

Bronne: aquarium.co.za; suninternational.com; waterfront.co.za; attractionsmanagement.com; iac2012.co.za; saveourseas.com

ONS SOEK JOU KIEKIES
Het jy ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na kyra.tarr@media24.com.