
Foto: Albie Venter
Nee, eintlik is daar duidelike verskille tussen konyne en hase. Hase bly bo die grond terwyl konyne skuiling soek in splete en ander ondergrondse gate. Omdat hase nie skuiling teen roofdiere het nie, moet hulle op spoed staatmaak. Daarom het hulle lang agterbene waarmee hulle vinnig kan weghardloop van enige bedreiging af. Konyne se bene is heelwat korter, wat help wanneer hulle by die smal tonnel van ’n gat wil afhardloop. Hase se ore is ook langer (soos die kolhaas op die foto hierbo s’n) en dié diere is minder sosiaal as konyne.
Hase maak nie ’n nes of lêplek nie en kry hulle kleintjies bo die grond. Dié kleintjies is met geboorte heeltemal met pels bedek en het oop oë en ore. Die kleintjies kan binne 28 uur self beweeg, en interessant genoeg is daar baie min ouersorg.
Daarenteen word konyne in ’n lêplek gebore wat deur die ma uitgevoer word met pels. Die kleintjies is heeltemal kaal, hulle oë is toe en hulle ore verstop – hulle is dus heeltemal hulpeloos.
’n Interessante gewoonte wat konyne en hase gemeen het, is dat albei spesies van hulle eie mis vreet. Dit gebeur in hulle rusfase wanneer die mis sag is. Op dié manier word vitamien B wat in die dermkanaal vervaardig word, in die maag opgeneem. Minerale soos kalsium en fosfate word ook weer ingeneem as hulle die misbolletjies eet. Só kry die diere die meeste moontlike energie uit kos. As hulle aktief is, skei hulle harde misbolletjies uit – dis die mis wat ’n mens gewoonlik in die veld sien.
Hierdie artikel het oorspronklik in September 2017 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.