Mamma Luislang hou van sonbaai!

akkreditasie
Albie Venter
Die Suid-Afrikaanse luislang is verreweg die grootste slang in Afrika, maar het jy geweet hulle is sorgsame ouers?

Daar is wêreldwyd 32 spesies luislange wat versprei is deur Sub-Sahara-Afrika, Asië en Australië. Maar Suider-Afrika het net twee: Anchieta se dwergluislang en die bekende Suider-Afrikaanse luislang (ook bekend as die gewone luislang) wat loshande die grootste slang in Afrika is.

Soos met vissermanstories word slangstories ook maklik aangedik. Ek het ook al geleer hoe groot iemand vir ’n slang geskrik het, hoe groter word dié slang in sy vertelling!

Al word die grootte van slange gereeld oordryf, word die Suider-Afrikaanse luislang selde groter as 5 meter en dis betwyfelbaar dat ’n slang van oor die 6 meter al ooit aangeteken is. Maar luislange bly indrukwekkende spesies.

Buiten die grootte, is daar heelwat ander interessante aspekte aan ’n luislang se lewe. Dit is ’n primaatslang, wat nie gif het nie, maar as ’n mens mooi kyk, sien jy ’n onontwikkelde “klou” aan die kant van die liggaam, blykbaar die laaste oorblyfsel van bene. Mense glo dit speel ’n rol in hofmakery. 

Luislange is ook van die min slange (en ook reptiele) wat ’n soort primitiewe ouersorg het.

As die eiers gelê is, krul die ma haar daarrondom op en broei dit uit. Party luislange kan hitte opwek deur hulle lywe te laat bewe, maar dis nog nooit by Suider-Afrikaanse luislange gesien nie (onthou: hulle is ektotermies en het ’n eksterne hittebron nodig om hulself te verwarm).

Luislange is ook van die min slange (en ook reptiele) wat ’n soort primitiewe ouersorg het.

’n Wyfieluislang sal eerder in die son lê en die hitte absorbeer sodat haar lyf byna-dodelike temperature rondom 40 grade Celsius bereik.

Hulle groot lywe kan die hitte ook meer doeltreffend behou en die warm wyfie gaan dan terug na haar broeisel, krul daarrondom op en dra die hitte oor na die eiers. 

Nog ’n interessante aspek is dat die wyfie by die nes bly vir sowat twee weke ná die eiers uitgebroei het. Al sal sy die kleintjies nie aktief beskerm nie, sal sy haar lyf om die uitgebroeide eiers draai. Die kleintjies klim dan tussen haar kronkelings in en trek weer voordeel uit haar hitte. Daarna is dit elke slang vir homself.