Ratels is skaars so lank soos ’n liniaal en weeg net 12 kg, maar dié diertjies boks ver bo hulle gewig.



James Stevenson Hamilton, die eerste opsigter van die Krugerwildtuin, het voorvalle aangeteken waar ratels ’n waterbok en wildebees doodmaak deur dié diere op die skrotum te byt. Die arme slagoffers het later gevrek weens bloedverlies. 

Ons weet nie of mnr. Hamilton oordryf het nie, maar daar is ander (bevestigde) verslae van ratels wat ’n steenbokprooi by strandjutte afrokkel. ’n Strandjut weeg sowat 40 kg – byna 4 keer swaerder as die ratel! Steenbok vir middagete is egter die uitsondering. Ratels vreet meestal kleiner diertjies, van kewers, skerpioene en spinnekoppe tot muise, akkedisse en selfs slange.

Soos die Engelse naam – honey badger – aandui, plunder ratels ook byekorwe op soek na byelarwes en heuning. Dit gee hulle ’n slegte naam onder heuningboere, omdat hulle die korwe én die boere se inkomstebron verwoes. Danksy die werk van organisasies soos die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (ewt.org.za) is dit tot ’n groot mate opgelos deur die ontwerp van ratelbestande korwe.

Ratels en heuningwyservoëls word dikwels verkeerdelik gebruik as voorbeeld van ’n simbiotiese verhouding: Die voël lei glo die ratel na ’n byekorf terwyl die ratel dan heuning en byewas vir die voël agterlaat om te eet om “dankie” te sê. Hoewel mense al gesien het hoe die voël ná die ratel by ’n korf eet, is daar nog nie klinkklare bewyse dat die voël wel die ratel tot by die korf lei nie.

Ander diere wat gereeld naby ratels gesien word, is rooijakkalse en bleeksingvalke. Hoewel ratels baie sterk is, is hulle nie juis rats nie. ’n Ratel grawe knaagdiere uit hulle tonnels, maar sodra hulle wegvlug, kry hy hulle nie altyd gevang nie. Dís wanneer die bleeksingvalke en die jakkalse inspring en die vlugtende knaagdier vang.

Ratels is ook baie slim! Kyk hierdie video van Stoffel, die ratel, wat planne maak om te ontsnap uit ’n wildlewe-rehabilitasiesentrum naby Hoedspruit.