Vertragings by Namibiese lughawe weens nuwe biometriese stelsel

akkreditasie
’n Nuwe biometriese stelsel het onlangs by die Hosea Kutako- internasionale lughawe in werking getree - die nuwe stelsel sukkel egter nog om passasiers se inligting te registreer.

Wees bereid om dalk in lang toue te staan as jy binnekort die Hosea Kutako- internasionale lughawe in Windhoek besoek. 

’n Nuwe biometriese stelsel het 6 September hier in werking getree. Die stelsel skandeer reisigers se vingerafdrukke en gesig met die doel om wettige immigrasie te verbeter.  

Die nuwe stelsel sukkel egter nog om passasiers se inligting te registreer, wat chaos op die lughawe veroorsaak. Sommige passasiers moes ure lank by doeanepunte wag, sê Gitta Paetzold, die voorsitter van die Namibiese Gasvryheidvereniging.

“Ons verwag die bekendstelling van so ’n elektroniese proses al ’n ruk en verwelkom in beginsel ’n beter immigrasiebeheerstelsel. Maar die bekendstelling vroeg in September het  ons onkant gevang. Die toerismebedryf is nie geraadpleeg voordat dit bekend gestel is nie. Hulle moes die nuwe stelsel beslis nie in die middel van Namibië se spitstoerismeseisoen in werking gestel het nie,” sê sy. 

Paetzold blameer die biometriese stelsel se langdradige proses, die swak infrastruktuur van die lughawe en die tekort aan doeanepunte asook die tekort aan goed opgeleide personeel vir die probleme. 

Daar is planne om die stelsel mettertyd ook by ander grensposte te implementeer, het die Namibiese departement van binnelandse sake en immigrasie in ’n verklaring gesê. 

Die minister van binnelandse sake en immigrasie, Pendukeni Iivula-Ithana, sê die nuwe stelsel sal wetstoepassing bevorder en die ekonomie ’n hupstoot gee. 

“Ter wille van ekonomiese vooruitgang moet mense en goedere vrylik kan beweeg, maar as dit nie dopgehou en beheer word nie, kan dit eerder ’n negatiewe uitwerking hê.” 

Die Namibiese lughawemaatskappy (NAC) sê hulle gaan binne die volgende paar weke nuwe strategieë probeer om die probleem op te los, in samewerking met die departement van binnelandse sake en immigrasie en die Namibiese polisiediens.