Die vredesooreenkoms tussen Renamo en Frelimo is maar nog ’n paar jaar jonk, en groot gebiede van Mosambiek staan steeds oortrek van bordjies wat waarsku: Perigo minas!

Hierdie afgeleë vloedvlakte noord van Beira was sekerlik nie ’n strategiese teiken waar landmyne geplant is nie. Kyk net hoe rustig wei die beeste hier... wel, vir nou. Maar met elke tree wat ek dieper tussen die nat grasse instap, raak my opwinding groter as my onsekerheid.

Klein silwerige vissies laat spat in die vlakwater net voor ek hulle raaktrap en naaldekokers dartel in blou, rooi en groen wolkies verby.

Maar al dié vredigheid versplinter skielik toe die voëlkykers rondom my begin uitroep: “Klein-riethaan!” toe ’n donkerblou warreling uit die gras verskyn.

Die volgende oomblik skiet ’n blou-en-rooi sliert verby: “Bloukwartel!” En nóg ’n opgewonde stem klink op toe ’n swermpie saadvreters opvlieg: Rooivlerkkwartelvinkies!”

Ek swaai my verkyker koorsagtig heen en weer. Waar moet ek eerste kyk? Ek wil niks mis nie!

Dis ’n voëlhemel.

Tot dusver was ons reis nie maklik nie. My pa moes om mediese redes terugkeer huis toe – ’n erge infeksie het hom in 40° C onder ’n kombers laat lê en bewe. Die enigste verligting van die versengende hitte is die hewige donderstorms. Die volumes water wat neerstort, maak van my "waterdigte" tent ’n plaspoel waarin my opblaasmatras soos ’n lilo dryf.

’n Mens kan net só lank in die bos kamp voor jy begin fantaseer oor ’n stort, ’n ordentlike bed en die simbool van algehele luuksheid – ’n toilet. Want afgesien van die hitte is daar ook ander daaglikse uitdagings: vlieë, muskiete, bosluise, slange, en natuurlik ook die gewone frustrasies van padlangs deur Afrika reis: padblokkades, sinkplaatpaaie, slaggate, verspoelde brûe, boomstompe wat jou weg versper, taai pikswart modder...

Maar die voëls maak dat ’n mens dit alles verduur. In slegs 10 dae het ons meer as 350 spesies afgemerk.

Ek wil hulle só graag lys, maar dit sal hierdie rubriek net onleesbaar en vir jou, die leser, groen van jaloesie maak. Maar glo my: my notaboek van daardie ekspedisie in die laat 1990’s se bladsye staan vol name van voëlsoorte wat ek nog nooit vantevore neergeskryf het nie. En ’n paar van hulle sedertdien ook nog nie weer nie. Ek het soos ’n ware verkenner gevoel, daar in die Mosambiek van 30 jaar gelede wat toe nog meer woude en minder paaie as nou gehad het.

Om terug te keer na daai oggend op die vloedvlakte... die verstommende verskeidenheid laat steeds my kop draai (figuurlik én letterlik!): swartvleiloerie, dubbelsnip, lelkraanvoël, rooikopkwelea, kopersuikerbekkie en selfs die fabelagtige oostelike saadbrekertjie is deel van die vertoning.

Maar die voël wat ons éintlik kom soek het, het ons bly ontwyk: Botaurus stellaris, die grootrietreier. Dié spesie wat voorheen wyd oor Suider-Afrika voorgekom het, het teen daardie tyd so te sê van die radar af verdwyn.

Hy is sy wetenskaplike naam (wat na ’n taurus, oftewel bul, verwys) te danke aan die manier waarop die mannetjie sy slukderm soos ’n klankkas vol lug trek en dan met ’n weergalmende roep lostrek – kompleet soos die gebulk van ’n bees. Op ’n stil aand kan jy ’n grootrietreier kilometers ver hoor.

Ná ’n uur se rondploeter in die moeras was my skene al kruis en dwars vol rooi hale soos die gras my vel gesny het, en ek was gereed om tou op te gooi.

Maar Afrika het nog ’n laaste kaart gehad om te speel: Nes ek omdraai om op my spore terug voetpad toe te sukkel dop ’n massiewe, uilagtige gedaante uit ’n biesiepol.

“Grootrietreier!!!”

Ek sweer, jy kon mý kreet van pure ekstase daardie dag net so ver soos die reier se gebulk hoor!

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook