Ek het een dag laatmiddag met my voete in die Oranjerivier gesit en gestaar na die dor kranse oorkant in Namibië. Skielik pik iets my toon. Ek pluk my voet uit die water en staar die dieptes in. Skole klein vissies dartel rond in die donker water. Ek en my vrou, Ronél, het eenkeer by ’n spa in Blouberg ’n Groupon-koepon gebruik vir dié voorreg. Dus glip ek my bene weer in die rivier en wag vir die piksoentjies.

’n Entjie stroomop staan die opsigter van die lodge en sy woelige kleuter en vuurmaak. Ons raak aan die gesels oor ditjies en datjies, maar dinge raak ongemaklik nadat ek ’n faux pas maak oor die geslag van sy dogtertjie.

Ek stuur die gesprek na die plaaslike voëls en word beloon met stories van ’n leeftyd in hierdie mooi woestynlandskap. Die staaltjie wat my aandag die meeste prikkel, is van die “weeu-weeu-voël” wat glo in die nag verskyn. Ek vermoed ek weet waarvan hy praat. En ek is reg: etlike sekondes later skree ons al drie gelyktydig: “Daar’s hy!”

... maar dinge raak ongemaklik nadat ek ’n faux pas maak oor die geslag van sy dogtertjie.

Dis ’n donkernaguil. Een van die sewe spesies van hierdie skugter naguile wat in Suid-Afrika voorkom. Soos wat hulle naam te kenne gee, is snags die tyd om hulle te soek. Jy het waarskynlik al vroegaand daai blink ogies op ’n stil grondpad gesien. Hulle massiewe sensitiewe oë word maklik verblind, en ongelukkig word talle op ons paaie doodgery.

Dis hartseer, maar as jy wel so ’n dooie een in die pad gewaar, hou stil en bekyk die oorskot van nader. Naguile is van die vreemdste kreature wat jy ooit sal raakloop.

Een van die eerste dinge wat jou opval, is hulle piepklein pootjies. Nogal vreemd vir iets wat op die grond bly. Kyk mooi – een van hulle kloue is in die vorm van ’n kam. Dis glo om hulle vere skoon te hou. Hulle snawel is net so nietig – totdat hulle gaap! Wees dapper en werk ’n vingernael in daai bekkie in. Skielik verander hulle bek in ’n enorme pienk vang-net, perfek om kewers, motte en ander vlieënde insekte op te raap. ’n Ring stywe borselveertjies staan reg rondom die snawel, wat die net nóg groter maak en ook die oë beskerm.

Maar naguile se indrukwekkendste talent is kamoeflering. Selfs in gebiede waar hulle volop is, sal jy nie sommer een bedags sien nie – hulle smelt eenvoudig weg. Dis danksy hulle veredrag wat die omgewing perfek naboots.

Europese naguil

Donkernaguile boer op klipperige hange; dus het hulle effekleurige vere met fyn spikkels, soos graniet of ander gesteentes. Daar is selfs ’n ligter veer hier en daar wat kompleet soos ligene lyk. Ander spesies lyk weer soos dooie hout, sand of blare.

Naguile het nóg truuks om onsigbaar te wees. Bedags vervorm hulle dramaties; hulle druk hulle lyf plat teen die grond en trek hulle enorme oë op skrefies. In 30 jaar van voëlskyk het ek al skaars 10 in die dag gesien. En dit is dan altyd blote toeval; jy het só naby aan hom getrap dat hy opvlieg en soms twee pienkwit eiers ontbloot. Naguile bou nie ’n nes nie. Hulle lê hulle eiers sommer net so op die grond.

Die ouers steek die eiers met hulle lyf weg en maak beurte om te broei: die wyfie in die dag en die mannetjie in die nag. Wie trek aan die kortste ent? Kan jy dink hoe warm dit in die dag vir Ma moet raak op ’n oop stuk rots of ’n sinkplaatdak? Snags word dit weer só koud in die woestyn dat naguile in ’n soort korttermynwinterslaap indommel (torpor in Engels).

Selfs in gebiede waar hulle volop is, sal jy nie sommer een bedags sien nie – hulle smelt eenvoudig weg.

Dié weeu-weeu-voël sorg die volgende oggend vir nog ’n verrassing. Die opsigter het my darem vergewe vir my foutjie, want hy kom maak my vroeg wakker en vra dat ek saam met hom stap.

Hy lei my na ’n plat afdak en beduie ek moet bo-op kyk. Eers sien ek niks nie, maar dan verskyn daar ’n vorm in die middel van die dak tussen gras en blare. Ja, dit is sowaar ’n donkernaguil.

Maar dis nie al nie: Met ’n verkyker sien ek nog twee stelle ogies in die warboel van vere. Nóg twee wegkruipertjie-kampioene is gebore.