Dit verander ’n mens se lewe wanneer jy ’n nagtegaal die eerste keer hoor roep.

Dis ’n klank wat kunstenaars en digters al eeue lank inspireer.

Wanneer ek die dag op my sterfbed lê, sal ek die verpleegster vra om die webwerf xeno-canto.org oop te maak sodat een van hulle nagtegaalklankgrepe my die ewigheid kan inlei.

’n Mens se indruk van dié voëls verander egter wanneer jy eers een sien. Dis maar.. meh.

’n Kleinerige grysbruin knol wat agter ’n tralie van takke en blare skuil.

Maar hier is ek nietemin op my knieë voor ’n struik in die Chobe waarin ek absoluut níks kan sien roer nie, laat staan nog ’n koekoek.

Ja, dit is ’n bietjie belaglik.

En steeds kruip ek sentimeter vir sentimeter op seer knieë al hoe nader aan die blare terwyl ek onophoudelik met oop oë bid.

Grasuile en kuiken Foto: Alamy

Ek het laaskeer genoem dat een van BirdLife South Africa se inisiatiewe – die South African Listers’ Club – besluit het dat voëlkykers voortaan spesies wat hulle slegs gehoor, maar nie te sien kon kry nie, ook by hulle lewenslysies mag voeg.

Die denke agter dié aanpassing tot die reëls is dat dit mense daarvan sal weerhou om steeds so na as moontlik aan ’n geveerde te probeer kom met die gevolg dat dit voëls minder versteur en gespanne maak.

Puristiese ornitoloë sal in hulle graf omdraai, maar die jonger gemeenskap van omgewingsbewuste voëlkykers wat met slimfone in hulle gatsakke grootgeword het, reken dié nuwe reël as logies en eties korrek.

Onder Amerikaanse en Europese voëlklubs is “roep is genoeg” reeds ’n groeiende tendens, want dit voorkom onnodige vertrapping van die veld en dus ook voëls se habitat.

Steeds kan niemand jou dwing om ’n voël op slegs sy klank as “gesien” af te merk nie – dit bly jou lewenslysie en daarom ook jou keuse.

Bygesê, die voëls se welstand is steeds die belangrikste oorweging.

Dit bly wonderlik om ’n sangertjie vir ’n halfsekonde lank diep in die ruigtes te kon sien of ’n vleikuiken nes hy in die riete verdwyn.

Maar as dít beteken dat jy die klankopname van ’n voël se roep aanhoudend speel om hom nader te lok, ’n gebied onregmatig betree of die plantegroei in die proses vertrap, kan dit nie goedgepraat word nie.

Een teenargument wat altyd tydens dié debat opklink, is die kwessie van nabootsing.

Nataljanfrederik

Wat van voëlspesies wat ander se roep naboots? Jy kan langs ’n natal-janfrederik staan en die ganse KwaZulu-Natalse spesielys een vir een afmerk!

Maar met ’n bietjie oefening leer ’n mens se oor naderhand onderskei tussen ’n nabootser en die ware jakob.

Eerstens herhaal nabootsers selde dieselfde roep oor en oor.

Hulle leen eerder kort grepies uit verskeie voëlroepe en voeg dit saam tot vreemde nuwe melodieë.

Dié flentertjies vogelgesang volg dikwels só kort op mekaar dat dit onmoontlik is om die hele motief te ontknoop.

Die omstandighede verklap ook dikwels ’n nabootser: Wanneer jy ’n visarend uit die kreupelhout by jou voete hoor roep, is dit waarskynlik nie een nie.

Sommige voëlkykers is bekommerd dat die reël “roep is genoeg” tot verkeerde identifikasie kan lei.

Maar geld dieselfde nie voëls wat jy wel met jou eie oë aanskou het nie?

Selfs as ’n professionele ornitoloog is ek huiwerig om tussen ’n tinktinkie en ’n sangertjie te onderskei as ek nie die voël se roep ook gehoor het nie.

Mense stuur gereeld vir my allerpragtige foto’s van klein, vaal voëltjies met die hoop dat ek hulle sal kan naam gee.

In baie van dié gevalle sou ’n amateuragtige klankopname met ’n selfoon vir my ’n beter aanduiding van die spesie kon gee!

Ek wil selfs sover gaan om te sê dat ervare voëlkykers met my sal saamstem dat ’n roep dikwels die veiliger, makliker en meer doeltreffende manier is om ’n voël te identifiseer.

’n Laaste ding om in gedagte te hou: ’n Voël se roep alleen was nog altyd aanvaarbaar vir alle spesielysies: eBird, BirdLasser, die insameling van data vir voëlatlasse, voëlkykdae, jaarlyste en dies meer.

Dis slegs die grote – ’n mens se lewenslys – wat tot op hede deur die moetsienreël gekniehalter is.

Ek het uiteindelik opgegee op daardie nagtegaal in die Chobe.

In die daaropvolgende jare sou ek dié voëls telkemale hoor roep, maar het nooit weer die moeite gedoen om hulle te probeer raaksien nie.

Om net terug te sit en die suiwer note aan te hoor was vir my genoeg.

En weet jy, die vreemdste ding het daarna begin gebeur: Asof die voëls besef het dat ek hulle welstand ter harte neem en hulle daarom nooit iewers in die ruigtes gaan kom opjaag nie, het hulle ewe skielik begin uitwip in die ooptes.

Wil jy nou meer!

Wil jy self voëls kyk?

Klik hier vir ’n wye keuse van gehalte-verkykers.