Dit was waarskynlik op ’n Vrydagaand en die meisies het in ’n groepie gestaan en giggel en die seuns het aan die oorkant van die saal saamgebondel. Dalk was daar ’n groepsdans waartydens almal dit darem op die dansvloer kon waag. En moenie die NikNaks vergeet nie. Daar was beslis ’n berg NikNaks en ’n stroom Sparletta.

Nou vir ’n paar hoërskooljare verder. Die tjips en gaskoeldrank is steeds in die prentjie, maar die sosiale dinamika het verander en elkeen ken sy plek in die hiërargie.

Groepies is gevorm: Die botterbulletjies gooi ’n rugbybal buite op die gras rond, die skaatsplankryers rook skelm agter ’n heining en die musikante beman die CD-speler.

Deur die loop van die aand mag ’n paar ouens mekaar dalk voor die bors gryp en rondpluk, maar almal is hoofsaaklik daar om dieselfde hulpbronne (musiek, NikNaks, Sparletta, dalk ’n bottel ingesmokkelde karatewater) te deel en kuier.

Wanneer voëls partytjie hou, lyk dinge presies dieselfde. Voëlkykers praat van ’n “partytjie,” maar verwys dan na die saamtrek eerder as die jollifikasie. Verskeie spesies kom byeen en vorm ’n tydelike swerm wat saam wei en jag.

Ek is seker jy het dit al teëgekom: Asof uit die niet pyl ’n swetterjoel voëls van allerlei vere op ’n klompie bome af, gevolg deur ’n kakofonie van fluite en roepe. Maar net vir enkele minute – dan is hulle weer vort en stilte daal neer.

Daar kan tot 20 verskillende spesies by só ’n voëlpartytjie opdaag en ’n mens moet omtrent bontstaan om elke partytjieganger te identifiseer. In digte ruigtes soos woude en bosse is die partytjies groter en die gaste meer uiteenlopend as in oop plantegroeistreke.

En die diversiteit van die gastelys word bepaal deur watter “tjips” die plantegroei bied.

’n Studie in die Kruger het getoon dat partytjies in doringveld gemiddeld 21,5 gaste uit 8,7 spesies lok, vergeleke met opskoppe in breëblaar-woudgebiede se gemiddeld van 10,7 voëls van 5,9 spesies. Die studie het 74 verskillende spesies in totaal aangeteken.

In digte ruigtes soos woude en bosse is die partytjies groter en die gaste meer uiteenlopend as in oop plantegroeistreke.

Waarom vind hierdie partytjies plaas? Daar’s verskeie redes, maar die twee grootste voordele is dat meer ogies op die uitkyk is vir roofdiere. Gevolglik hoef individue minder tyd as “brandwag” te vermors en dus kan elkeen meer tyd aan snuffelvreet afstaan. Daarby is die kans van 'n voëltjie wat deel van 'n groot swerm vorm, ook kleiner om deur 'n roofdier uitgesonder te word. ’n Massa voëls bymekaar is soms vir roofdiere so oorweldigend dat hulle die aftog blaas.

Verder is dit ’n strategiese skuif: Hoe meer siele saam is, hoe groter die kans om ryk voedselbronne op te spoor. Ook om insekte uit hulle wegkruipplekke te jaag. Die voëls hou mekaar fyn dop om te sien waar die happies volop is en watter kolle reeds gestroop is.

Was jy op hoërskool ’n leier of ’n volgeling? Voëls is maar nes ons: Party spesies neem die voortou en sal die partytjie op dreef kry terwyl die meerderheid net opdaag en kuier. En – net soos op skool – is daar ook die enkele gewilde kinders saam met wie almal gesien wil word. Dié voëlspesies is gewoonlik luidrugtig en windmakerig.

Dink maar aan die witliesbosbontrokkie, gewone swartmees en die mikstertbyvanger. In die Ooste is daar selfs ’n soort byvanger wat ander voëls se roepe namaak om die partytjie te laat gons! Interessant genoeg word heelwat van dié leierspesies geken aan hulle ingewikkelde sosiale strukture, uitgebreide “taal” en broeigewoontes waar die kuikens deur die hele swerm versorg word.

In minder beboste habitatte is die leiers ook gewoonlik die brandwagte op wie se waaksaamheid en vroegtydige alarm ’n swerm staatmaak. Wie is dus die volgelinge? Meestal klein, insekvretende boombewoners wat nie van nature in swerms rondgaan nie: vlieëvangers, wipsterte, heuningwysers, spegte, tinkers, laksmanne, katakoeroes, mese, tiptolle, sangers, tinktinkies, langstertjies, bossangers, kleinjantjies... om maar net ’n paar te noem.

Almal is welkom by ’n voëlpartytjie (hoewel ’n roofvoël dalk gaan sukkel om by die uitsmyter verby te kom)! Sommige spesies is byna uitsluitlik afhanklik van sulke swerms en ’n mens sien hulle selde buite dié situasie kos soek. Hulle is wáre partytjiediere! Maar die meeste sal slegs aansluit indien die geselligheid deur hulle gebied trek.

Voëlpartytjies kom ook meestal in die droë seisoen voor, wanneer voëls nie broei nie. Natuurlik het hierdie saamtrekke ook sy nadele, soos kompetisie (wie het die laaste Pringle geëet... wié?!) en geweld (ek sweer, sý het eerste vir mý gekyk!); party spesies sal selfs aan die kortste ent trek weens kleptoparasitisme (ék het die Tinkies gebring en hulle het nie eens vir my één gelos nie!) en onderdrukking (nee, jy mag nie inkom nie, skoert!) van meer dominante spesies.

Maar naderhand geniet álmal – die voëls sowel as die voëlkykers – ’n partytjie.


Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook