
Hierdie flamink het rustig gewei in die Cubitje Quap-watergat net noord van die Nossobruskamp in die Kgalagadi-oorgrenspark. Toe ons omstreeks sesuur terugry na Nossob, kom land Ta voor ons in die pad; draf ’n entjie, en styg weer op.
Sekerlik kan hierdie voël, wat heeltemal uit pas lyk met die omgewing, nie die nag oorleef nie...
Maar groot is ons verbasing toe ons die volgende oggend net ná sonop weer by dieselfde drinkplek stilhou, en hier is die rosige flamink weer aan die werk in die krip se water!
Het dié een se GPS ’n bietjie deurmekaar geraak?
Die vöelkenner MARK D. ANDERSON antwoord: Kleinflaminke is nomadies en vlieg groot afstande op soek na kos. Die voëls daag soms op in panne in Boesmanland, watergate in die Kalahari en plaasdamme in die Karoo.
Ek wonder altyd hoe hulle weet dat ’n veraf pan oorstroom het. Boere het my al gebel en gesê flaminke was by ’n pan of dam wat net enkele dae gelede oorstroom het. Hulle vlieg teen sowat 60 km/h en dis moontlik dat hulle sowat 600 km in ’n nag kan vlieg. Dié voël het waarskynlik net die Kgalagadi vinnig besoek, want die watergat het nie blougroen alge nie - dié spesies se gunsteling-happie.