Nie hééltemal nie. Gemiddeld vind okkultasies van die helderste sterre (helderder as magnitude 1) elke 44 dae plaas terwyl dit elke twee uur met die dofste sterre (magnitude 7) gebeur.

Die helder maanlig maak dit egter baie moeilik (of selfs onmoontlik) om te sien. Wanneer so ’n okkultasie wel sigbaar is, is dit fassinerend om te sien.

Vanweë die manier waarop die maan beweeg, lyk dit van die aarde af asof die sterre aan sy oostekant verdwyn en tot ’n uur later (hy skuif elke uur met sy eie deursnee aan) weer aan die westelike rand van die maan verskyn.

Die maan het nie ’n atmosfeer wat lig kan buig of verstrooi nie, daarom verdwyn die fynste enkelsterre feitlik oombliklik, soos ’n lig wat jy afskakel.

Dubbelsterre (of selfs meervoudige sterre) verdwyn trapsgewys soos die komponente een na die ander verdwyn en weer aan die ander kant van die maan herverskyn.

Planete weer vertoon soos ’n plat skyf eerder as ’n ligpuntjie, en verdwyn (en herverskyn) gaandeweg oor ’n sekonde of twee.

Wanneer ’n mens ’n okkultasie dophou waar ’n ster net mooi langs die bo- of onderrand van die maan verbybeweeg, sal jy sien dat die ster verskeie kere aan- en af “flikker”. Sulke skramse okkultasies (grazing occultations in Engels) is voor maansendings gebruik om topografiese inligting oor die maan in te samel omdat dit inligting verskaf oor die berge en dale langs die rand van die maan.

Daar is in die komende maande twee okkultasies kort na mekaar met verskillende sterre: Op 28 April is die maan taamlik helder en die ster waarby dit verbybeweeg, dowwer in vergelyking met die okkultasie wat jy ’n paar nagte later – op 1 Mei – kan waarneem. Maar: 28 April s’n behels ’n dubbelster; wees dus op die uitkyk vir daardie trapsgewyse verdwyning en herverskyning.

Die okkultasie van 1 Mei behels ’n helderder ster, maar dit gaan vroegoggend plaasvind – wanneer dit begin lig word – jy sal dus jou wekker moet stel! 

MAANFASES APRIL

LAASTE KWARTIER 4 APRIL DOOIEGETY: 5 APRIL HOOGGETY: 10.28 VM. & 11.30 NM.  

NUWEMAAN 12 APRIL SPRINGGETY: 12 APRIL HOOGGETY: 3.29 VM. & 3.46 NM.

EERSTE KWARTIER 20 APRIL DOOIEGETY: 20 APRIL HOOGGETY: 8.56 VM. & 10.03 NM.

VOLMAAN (Diamantmaan) 27 APRIL SPRINGGETY: 27 APRIL HOOGGETY: 3.10 VM. & 3.41 NM.

MEI

LAASTE KWARTIER 3 MEI DOOIEGETY: 4 MEI HOOGGETY: 10.10 VM & 10.56 NM.  

NUWEMAAN 11 MEI SPRINGGETY: 12 MEI HOOGGETY: 3.27 VM. & 3.49 NM.

EERSTE KWARTIER 19 MEI DOOIEGETY: 19 MEI HOOGGETY: 8.28 VM. & 9.17 NM.

VOLMAAN (RYPMAAN) 26 MEI SPRINGGETY: 26 MEI HOOGGETY: 2.47 VM. & 3.23 NM 

Hierdie is die hoogwatertye vir Kaapstad. Vir ander plekke tel jy minute by of trek dit af. (Let wel, hierdie is benaderde tye): Saldanha: +5; Hermanus: -4; Port Elizabeth: +19; Durban: +26   Gety-inligting met die vergunning van die Hidrograaf, SA Vloot. Die Hidrograaf is nie verantwoordelik vir enige transkripsiefoute nie. sanho.co.za