Die sypikslang is gewoonlik aan die kort kant – sowat 30 tot 40 cm lank – hoewel sommige van tot 70 cm lank al aangeteken is. Dié slang het ’n donkerbruin tot swart kleur reg rondom, behalwe in die noordelike streke waar die pens wit is.

Sypikslange kom wyd in die noorde en ooste van die land voor, van die verre noordooste van die Oos-Kaap, regdeur KwaZulu-Natal en Swaziland, Oos-Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en Noordwes, tot in dele van die Noord-Kaap.

Dié slangetjie bring die meeste van sy dae ondergronds in tonneltjies deur waar dit jag maak op ander slange en slapende akkedisse.

En dis juis dié beperkte “jagveld” wat van hom so ’n gevaarlike kalant maak: Om sy prooi in sulke noutes te kan aanval het die sypikslang groot giftande wat sommer van binne sy toe bek na die kante toe kan uitsteek, waarmee hy dan die prooi bykom. Sy sitotoksiese gif is sterk en het oombliklik pyn, swelling en die vorming van blase tot gevolg.

Op warm aande (veral ná reën) kom die slang gewoonlik na die oppervlak en beland gereeld in swembaddens. Mense sien dit dan as ’n onskadelike slangetjie aan wat hulle graag uit die water wil red, en dis waar hulle dan die fout maak. Want selfs al kry jy ’n sypikslang agter die kop beet, kan hy nog steeds sy kop sywaarts draai en jou vinger of duim met een van daardie giftande binnedring.

Hy’ t ook ’n skerp hakie op sy stertpunt wat ’n mens se vel kan binnedring en jou laat dink jy’s gepik. Baie mense word jaarliks deur hierdie slangsoort gepik – gewoonlik wanneer hulle die dier probeer hanteer. Die byt is ontsettend seer en daar is nie ’n doeltreffende teengif beskikbaar nie. Dokters kan slegs ’n slagoffer vir die pyn behandel, en gehidreer hou. In die meeste gevalle vorm ’n baie groot blaas op die vel en die geaffekteerde vinger of duim raak donker.

Ná sowat ’n week kan ’n dokter die omvang van die skade bepaal en indien nodig dooie weefsel wegsny. Antibiotika of anti-inflammatoriese middels help nie, en in uiterste gevalle kan ’n slagoffer ’n vingerlit of twee verloor. Wanneer jy dus weer ’n “molslangetjie” in jou swembad aantref, bel liewer ’n opgeleide slang-vanger om die diertjie te kom uithaal! – Johan Marais

* Gaan na africansnakebiteinstitute.com vir meer inligting