Dit was daarom een van die redes waarom ek in 2015 só opgewonde was oor twee witkwasjakkalse se lêplek en drie welpies wat ek in Kenia ontdek het.

 Ek het die kans aangegryp om die diertjie af te neem. Hoewel die kleingoed rustig voorgekom het, wou die ouers dit nie nader as 200 m aan ons waag nie – tipies van dié spesie wat bekend is vir sy skugter, ontwykende gedrag.

Studies wat al in die verlede in Zimbabwe gedoen is, het ons kennis oor die witkwasse verbreed: Daar is vasgestel dat ’n jakkalspaar in ’n gebied van 12 km² hou, maar snags slegs in ’n derde hiervan jag.

Van al die jakkalssoorte wat in Suider-Afrika voorkom, is die witkwasjakkals die grootste omnivoor en maak hy grootliks staat op plantmateriaal as kos. Hoewel hy steeds vleis bo plante verkies, vreet die witkwasjakkals sekere tye van die jaar uitsluitlik die vruggies van die waterbessieboom.

Net soos met ander jakkalse word die witkwas ook gereeld as veevanger uitgekryt. En tog toon navorsing dat, hoewel hulle aan aas sal vreet, dié jakkalse selde vee sal doodbyt.

Hulle is die mees naglewende van al die jakkalsspesies en word alleen of in pare aangetref. Interessant genoeg sal een van die welpies wat tot volwassenheid oorleef, waarskynlik in die ouerpaar segebied aanbly – vermoedelik om hulle in die grootmaak van hulle volgende werpsel te ondersteun.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook