1. As iemand vir jou ’n koue turksvy gee, eet hom

Die turksvy is een van die Karoo se minder bekende troefkaarte. Hierdie nederige stekelrige vrug het gereeld in die kies beland.

Op Laingsburg het ons turksvykonfyt gekoop. In die Gamkaskloof het ons self turksvye gepluk en geleer hoe om dit in te lê. Jy moet mooi kyk as jy pluk, want die dorings is fyn. Gelukkig het tannie Annetjie Joubert ons vinnig te hulp gesnel met ’n boereraat: Smeer jou hande behoorlik met plaasbotter en krap daarna die dorings af met ’n mes.

’n Bakkie koue, geskilde turksvye het ons gereeld by oornagplekke ingewag – van Venterstad tot anderkant Williston. Daar was turksvye vir brekfis, vir nagereg, as ’n peuselhappie en selfs op ’n sosatie- stokkie by ’n braai.

Lank lewe die turksvy! 

2. Nie alle skaapvleis is gelyk geskape nie

SKAAP SENTRAAL. Dis een van die Karoo se mees ikoniese tonele: ’n Trop skape wat deur plaaswerkers en skaaphonde aangejaag word van een kamp na ’n ander; hierdie foto is geneem in die Carnarvon-distrik.

Of dit nou jou pad kruis as tjop, boud, ribbetjie, burgerpattie – of sommer in grootmaat op die spit – jy gáán skaapvleis eet op ’n reis deur die Karoo. Ons het soveel geëet dat ons weke ná ons reis nog soms onwillekeurig geblêr het.

Karoo-skaap is regoor Suid-Afrika bekend as die geurigste skaapvleis, maar wat presies maak dit so lekker? Deesdae is Karoo-skaap ’n “amptelike” ding, want om jou plaas se vleis as égte Karoo-lam te kan bemark moet jy ’n hand vol spesifieke bossiespesies op jou plaas hê: silwerkaroo (Plinthus karrooicus), skaapbossie (Pentzia spinescens), kapokbossie (Eriocephalus ericoides), rivierganna (Salsola glabrescens), ankerkaroo (Pentzia incana) en perdebos (Pteronia glauca/Rosenia humilis).

Met dié mond vol kruie ’n skaap homself terwyl hy bossies vreet en siedaar – jy kry daardie onmiskenbare Karoo-smaak op jou bord.

3. Plaasdamme swem die beste

Dit was hoogsomer met die maak van Weg Agterpaaie Karoo en byna oral waar ons ry, gaan draai die kwik in die hoë 30’s of selfs 40’s. Ons kon in die gemak van ons Toyota Hilux die lugversorging oopdraai om die ergste hitte hok te slaan, maar wanneer daar ’n plaasdam naby was, het ons summier swembroek aangetrek en bommie gemaak.

Ons dink nou skielik weer terug aan ’n witwarm dag in die Williston-distrik daar by JD en Nestie Smit se gasteplaas, Maiden Rock. Die plaasdam op die werf is perfek: ’n Mens wip net in en wanneer jy eers in is, kan jy op jou rug lê en dryf en kyk na die windpompkop wat bo jou draai en, o, dóér, ’n kraai teen die hemel.

4. Grondpaaie lei jou na wonderwerke

ROTSVAS. Die Ganagapas is ’n dramatiese bergpas en klim van die Tankwa-Karoo tot by die Roggeveldplato naby Middelpos.

Enige getroue Weg-leser weet: As jy by plekke wil uitkom waar jou mond gaan oophang van die mooigeit en jou kamera hom ’n halfuur lank gaan oorwerk, sal jy moet grondpaaie ry.

Op grondpaaie moet jy stadiger ry, die slootjies, riffels en sandwalletjies in die pad voor jou begin “lees”. ’n Meerkatgat kan raaksien, vir ’n slang kan swenk. Op hierdie manier word jy stelselmatig meer bewus van die landskap rondom jou. Jy sien ’n bult en voorspel hoe die volgende vlaktetjie dalk gaan lyk. Jy kyk na ’n koppie en begin weet waar om te soek vir ’n dassie.

Kort voor lank draai jy venster af, of hou stil, klim uit, en tel ’n hand vol gruis op. Nou is jy gereed om deur die Karoo aangeraak te word.

5. Verrassings wag om elke draai

Die Karoo het ons elke dag op een of ander manier verras. Soms was dit iemand se woorde, soos Gert Willemse, die duiweboer van Matjiesfontein, wat gesê het: “Jy kry mos die vetlampiekinders en die elektriese kinders.”

Hiermee het Gert bedoel jy kry kinders wat grootgeword het met vetlampies en kerse, en kinders wat alles as vanselfsprekend aanvaar en bloot ’n ligskakelaar druk. 

’n Ander keer het ’n uitkykpunt ons onkant betrap: ’n Dolleë Gamkapoortdam met diep modderkrake. Soos Dooievlei, maar dooier.

’n Groot verrassing het by die plaas Badsfontein buite Murraysburg op ons gewag: die kans om op ’n plaasdam diep in die Karoo te probeer ski.

Dinge was nooit vervelig of voorspelbaar langs die Karoo se agterpaaie nie.  

6. In die Karoo is jy nooit alleen nie

KAROOMENSE. JD en Nestie Smit is die toegewyde eienaars van die Maiden Rock-gasteplaas buite Williston.

In die Karoo woon die mense dalk ver uitmekaar, maar hulle trek ’n vreemdeling bittergou nader as vriend.

In die Karoo is gasvryheid nie opsioneel nie – dit is ingeweef by ’n ware Karoo-mens se DNS. Jy word koffie aangebied en ’n beskuit verskyn daarmee saam, of piesangbrood, of skuinskoek...

Jy hou by iemand stil om blad te skud en as jy weer sien, word jy genooi vir aandete, of jy ry saam agterop die bakkie om “gou” iets iewers op die plaas te gaan kyk.

Van Liezl en Jaco de Klerk van die Weltevrede-vyeplaas buite Prins Albert tot oom Boetie en tannie Henriëtte Terblanché van Rietrivier in die Baviaans tot Doornberg buite Nieu-Bethesda se Van Heerdens en die De Kocks van Van Wyksvlei: Daar is honderde mense vir wie ons wil dankie sê!

7. Die Karoo is aan die herleef

KAP ’N RIEL! Williston se Die Amandelboom Stappers met Heinrich Erasmus as voor-danser laat die riel lééf.

Party dorpies is moeër as ander en die ontvolking van die platteland is ’n werklikheid, maar die Karoo is ook op verskeie maniere aan die herleef.

Op Murraysburg trek jong paartjies terug dorp toe, vloei die leiwater vir die eerste keer in dekades en hier het onlangs ’n kleuterskool en ’n pilates- ateljee oopgemaak.

Dorpies soos Loxton en Merweville is gereeld die agtergrond vir Afrikaanse flieks en dramareekse wat hier geskiet word.

Karoo-entrepreneurs werk flink om toeriste na hierdie hartland te lok. Soos Pieter en Elmarie Naudé se Williston Mall en Winterfees, Douwe Vlok wat nuwe stap- en fietsroetes in die berge tussen Fraserburg en Beaufort-Wes vestig en Jurg Wagener met sy gewilde sterrekykaande buite Sutherland.

Die rieldans is ook aan die herleef, soos ’n geesdriftige spannetjie kinders – Die Amandelboom Stappers – ons een middag in ’n stofstraat in Williston gewys het. 

8. Tyd verloop anders in die Karoo

Die gejaag na wind en wins word toenemend ál minder belangrik in die Karoo. Dit voel ook asof die horlosie stadiger draai. Terloops, ons het wel gevind dat die dorpies met stiptelike kerkhorlosies in die algemeen meer op en wakker was as die res.

Ons het ook dikwels plekke besoek wat ons perspektief op die verloop van tyd gegee het: die dolerietpilare in die Vallei van Verlatenheid, fossielspore buite Fraserburg, rotsgravures op ysterklip naby Van Wyksvlei.

Dit bly ’n voorreg om hierdie plekke te kan besoek. En met die gul gasvryheid het ons ook besef: In hierdie tydlose ruimte het mense nog tyd vir mekaar.

9. In die Karoo moet jy op jou knieë gaan

Die Karoo kan hard en ongenaakbaar wees, veral in droogtetyd. Maar dis ook ’n dankbare wêreld. Die mense hier leef na aan die aarde, en na aan hulle God. Hier word gereeld gebid vir reën, ’n goeie oes en genade.

En as jy werklik die Karoo se skatte wil sien, help dit ook om op jou knieë te gaan. Soos by die Anysberg-natuurreservaat, waar Marius Brand vir ons skaars beeskloutjies tussen die klippe gewys het. Of by die plaas Papkuilsfontein buite Nieuwoudtville, waar ons saam met Willem van Wyk na piepklein bolplantjies gekyk het wat wag op die eerste reën.

Soms kan jy uit jou kar klim en kniel om ’n skilpad uit die pad te haal, of sien hoe ’n miskruier ’n bolletjie mis oor die stofpad rol. 

10. Die Karoo praat in stiltes

STILLEWE. Die dag groet met windpomp en plaas- hond op Doornberg buite Nieu-Bethesda.

Jy kom na die Karoo om stilte te ervaar. Om ’n klip stadig op te tel en lank daarna te staar.

Om te sien hoe die wolke maal en opbou en donderwolke word en wegdryf en verder op die horison gaan staan en blits en reën. Jy kom na die Karoo vir die veld vol lewerikke, korhane, bloukraanvoëls en bleeksingvalke.

Jy kom vir die klanke van die oggend en die klanke van die aand.

Maar bowenal kom jy vir die stilte. Die stilte begin dalk buite in die natuur, maar om totaal rustig te word, om jouself slap te kom ontspan, moet jy die stilte ook binne jou begin voel. Hoe langer jy in die Karoo bly, hoe beter is jou kanse.

Haal diep asem. Stap alleen in die veld. Sit onder die sterre wanneer die ander gaan slaap het. En wag. Wag vir die stilte rondom jou om met die stilte binne jou te begin gesels.


Weg Agterpaaie Karoo is op Showmax beskikbaar!

Dié artikel het die eerste keer in Mei 2017 (#151) in Weg verskyn.