Ek verwys na die artikel “Vaarwel ná 44 jaar” in die Februarie 2019-uitgawe van Weg Ry & Sleep waarin Piet en Hannetjie Dunn vertel hoe hulle met hulle 1974 Jurgens 580 B Deluxe-woonwa ons land deurkruis het.

Dit is voorwaar ’n prestasie. Ek en my vrou, Petra, het ’n soortgelyke storie. Ons het die Jurgens 600 A Elegant-woonwa by ’n Jurgens-handelaar op Welkom gekoop en het hom vandag nog, al staan hy nou in die stoor. Ons het egter intussen al van sleepvoertuig verwissel.

Ons het eers vir die F100 ’n Ford Fairmont GT-enjin laat insit en dit het hom in baie opsigte verbeter. Daarna het ons met ’n 3 l-model Ford Cortina gesleep, maar dit het nogal gesukkel met die wa op die haak. Die enjin het oorverhit en die hoë brandstofverbruik het ook gepla. Hierna het ’n restourasieprojek van ’n tiensitplek-Land Rover gevolg. Sy oorspronklike enjin moes plek maak vir ’n 4.1 Chev-enjin, en ek het ’n snelrat – dis soos ’n vyfde rat – by die vierspoedhandratkas ingebou.

Ek het selfs ’n ruk met ’n BMW 320i gesleep, maar van 2011 af sleep ek met my Isuzu 300 D-TEQ – en dit was tot nou toe net ’n plesier.

Die foto is in 1980 op ons eerste reis deur Namibië geneem. Hier staan die Vingerklip nog. Ons het die land deurkruis met die Jurgens en selfs by Etosha in Namibië gedraai. As ek sommetjies maak, het die woonwa ’n goeie 115 000 km saam met ons gedraf.